Terwyl regeringsamptenare omring is van veiligheidswagte waarvoor die belastingbetalers in Suid-Afrika ten duurste betaal, is gemeenskappe uitgelewer aan die genade van misdadigers, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid vir Mogale City.
Die wrede en onnodige moord van Jaco van Eeden en Elsabe Muller voor Elsabe se 12-jarige dogter Carolize in Fochville, is 'n sprekende bewys van die blatante minagting vir menselewens deur misdadigers.
Luidens statistiek wat in die Mail & Guardian verskyn het, is daar 3 671 mense vermoor in Gauteng tussen April 2014 en Maart 2015. Die syfers wys dat die aantal moorde in Gauteng toegeneem het met 10.4% vergeleke met die vorige jaar (2013/2014).
Hoewel die minister van polisie, Nathi Nhleko, benadruk het dat misdaad nie net vir die polisie is om te bekamp nie, sê De Lange die regeringsowerhede moet groter aanspreeklikheid aanvaar.
"Die ANC regering se gelate houding oor die stygende misdaadsyfers – veral moorde – is totaal onaanvaarbaar en skep die indruk dat misdaad nie sy grootste prioriteit is nie", sê De Lange.
Volgens haar is daar te veel kinders in Suid-Afrika wat wees gelaat word weens misdadige aktiwiteite. Die korrektiewe proses vir veroordeelde misdadigers wat op rehabilitasie eerder as straf gegrond is, is nie ‘n afskrikmiddel vir ernstige misdadigers nie en speel 'n groot rol in die steeds stygende misdaadsyfers.
Die duisende vakante poste by plaaslike polisiekantore wat nie gevul word nie, het tot gevolg dat die polisie oneffektief gelaat word om plaaslike gemeenskappe genoegsaam te beveilig of op noodsituasies te reageer.
Die Vryheidsfront Plus se vrouekomitee, waarvan De Lange die nasionale voorsitter is, is besig om ‘n versoekskrif op te stel waarin Nhleko, asook president Jacob Zuma, gevra word om misdaadbekampingsaksieplanne op die tafel te plaas en in werking te stel.
Sy sê dit is 'n grondwetlike reg van Suid-Afrikaanse burgers om veilig in hul eie land te wees en die regering is tans besig om sy verpligtinge op gemeenskappe, sowel as gemeenskapsorganisasies soos forums vir gemeenskapspolisiëring af te skuif.
“Die VF Plus spreek sy diepste meegevoel uit met Carolize en haar familie met die ontydige afsterwe van haar ma,” sê De Lange.
Amanda de Lange
Kontaknommers: 071 604 9498