fbpx
Vryheidsfront Plus

Geldvermorsing van ANC-burgemeester van Bloemhof en Christiana skokkend

Die geldvermorsing van mnr. Moses Mohlabi, die ANC-burgemeester van die Lekwa Taemane-plaaslike munisipaliteit, (Bloemhof en Christiana), terwyl die munisipaliteit om hom verval, is onaanvaarbaar.

Mohlabi bestee sowat R121 duisend per maand om ‘n luukse ampsmotor vir homself te huur.

Lekwa Taemane is tegnies bankrot en het onlangs ‘n onbefondsde begroting aanvaar.

Die infrastruktuur van Bloemhof en Christiana verval by die dag en die munisipaliteit beskik nie meer oor die toerusting wat noodsaaklik is vir basiese dienslewering nie.

Voertuie en werktuie van die munisipaliteit is tot niet weens ‘n jarelange gebrek aan onderhoud met die munisipaliteit wat deurentyd ‘n gebrek aan fondse aanvoer as rede vir die verval.

Sakelui verlaat die dorpe weens die gebrek aan dienslewering met honderde werksgeleenthede wat al in die proses verlore gegaan het. Die negatiewe maatskaplike gevolge hiervan op die plaaslike gemeenskappe is enorm.

Tóg word dit goedgevind om Mohlabi se uitspattige leefstyl teen enorme bedrae te finansier. Alles op die rekening van die belastingbetalers van Lekwa Taemane.

Hierdie optrede van die ANC-leierskap in Lekwa Taemane is tekenend van die algehele minagting waarmee die ANC die regte en belange van die land se inwoners bejeën.

Die VF Plus het reeds ‘n mosie van wantroue teen die burgemeester ingedien vir stemming in die munisipale raad.

Die party sal voortgaan om sulke vergrype te ontbloot en sal aanhou stry vir die herstel van etiese en professionele dienslewering in Lekwa Taemane.

Die inwoners van Bloemhof en Christiana verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.