Laat ‘n geheime stemming toe. Dit is die enigste manier hoe ANC-parlementslede met hul gewete en goeie oordeel kan stem sonder vrees vir die gevolge van hul optrede.
Dr. Corné Muder, hoofsweep van die VF Plus, het dié versoek vandag gerig aan die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, in antwoord op Mbete se versoek aan alle politieke partye om hul insette te lewer oor ‘n geheime stemming vir die verwydering van president Jacob Zuma.
In sy skrywe wys dr. Mulder die speaker op haar eie uitsprake dat sy nie gekant is teen ‘n geheime stemming nie, maar dit sy nie by magte is om daaroor te besluit nie. Dit was voor die Grondwethof se rigtinggewende uitspraak dat sy wel daaroor kan besluit.
Dr. Mulder sê dit was nog altyd die mening van die VF Plus dat dit ‘net logies is’ dat indien die president deur middel van 'n geheime stemming verkies word, hy ook op dié manier verwyder moet kan word.
Hy het Mbete daarop gewys dat indien sy weier om die mosie van wantroue teen pres. Zuma in ‘n geheime stemming te laat plaasvind, haar optrede allerweë beskou sal word as akkommoderende’ teenoor die president aangesien hy in die parlement op ‘n vraag van die VF Plus gesê het hy verkies ‘n ope stemming.
“’n Besluit teen ‘n geheime stemming sou irrasioneel wees en sal op hersiening geneem word gesien in die lig van die Grondwethof se uitspraak oor die aangeleentheid,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403