fbpx
Vryheidsfront Plus

Geen sprake van ware vryheid in Suid-Afrika onder ‘n ANC-regering

(Debat in parlement: Vryheidsdag)

Gemeet aan die Suid-Afrikaanse Grondwet se Handves van Menseregte, is daar weinig sprake van regte vir die inwoners van Suid-Afrika.

Die Grondwet waarborg vryhede soos die vryheid teen diskriminasie en liggaamlike leed, die reg op gelykheid, menswaardigheid, lewe, voedsel, water en maatskaplike sekuriteit, die toegang tot dienslewering, onderwys, en vele meer.

Tog is dit duidelik dat hierdie ‘waarborge’ niks anders as leë woorde is vir die mense Suid-Afrika nie.

Hoe vry is vroue as hulle gedurig oor die skouer moet loer? Boere wat saans nie sonder ‘n vuurwapen langs die bed kan gaan slaap om hul gesin te beskerm nie?

Hoe vry is ‘n ma wat snags honger moet gaan slaap sodat haar kinders iets kan eet en wonder waar môre se kos vandaan sal kom?

Is vroue vandag enigsins vryer as in September 2019 toe hulle voor die parlement teen geweld en moord betoog het? Toe die president 'n aksieplan aangekondig het wat die vestiging van 11 bykomende howe vir seksuele misdrywe ingesluit het?

Uit vrae van die VF Plus aan die minister van justisie oor hoeveel van hierdie howe tot dusver gerealiseer het, blyk dit dat geen bykomende hof van hierdie aard ingestel is nie.

Die land se werkloosheidsyfer het tot 35,3% gestyg. Die hoogste ooit. Jeugwerkloosheid in die ouderdomsgroep 15 tot 24 sonder onderwys of opleiding is 'n verstommende 66,5%.

Miljoene mense in Suid-Afrika is vasgevang in 'n hopelose spiraal van werkloosheid en die regering se reaksie hierop is om wetgewing te verskerp wat werkskepping en ekonomiese groei verder bemoeilik.

Benewens ‘n gebrek aan werkskepping, sterf plaaslike ekonomieë weens ‘n gebrek aan dienslewering. Goeie dienslewering en kragvoorsiening is klaarblyklik die enigste waarvan Suid-Afrika waarlik vry is.

Dit is nou reeds duidelik dat infrastruktuur-onderhoud en -ontwikkeling vir die regering ‘n uitheemse konsep is wat telkemale sneuwel voor korrupsie, magsug, wanbestuur, verkeerde prioriteite en onbevoegdheid.

Dit gaan verder: Baie mense word ook ontneem van die vryheid om hul erfenis, herkoms en geskiedenis te gedenk. Selfs dít word vertrap ter wille van ’n kwynende ANC-meerderheid se geykte politieke ideologieë.

‘n Demokrasie op papier met ‘n grondwet wat elke vryheid in die wêreld beloof sonder ware vryheid, beteken helaas niks.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.