Die VF Plus vind dit skokkend dat die Wes-Kaapse regering, met vooraf kennis van ‘n taxi-protesaksie by Du Noon, naby Table View, geen voorsorg getref het om motoriste teen ‘n uiters gewelddadige skare mens te beskerm nie, sê Jaco Prins, organiseerder van die VF Plus in die Wes-Kaap.
Prins is self vanoggend omstreeks nege-uur op die N7 by Du Noon aangeval terwyl hy met sy motorfiets op pad na Kaapstad was.
Op ‘n video wat ‘n joernalis van Times Live, Anthony Moluneaux van die voorval gemaak het, kan gesien word hoe ‘n skare van sowat honderd mans en vroue die pad voor Prins probeer versper. Hy word eers met ‘n pyp aangeval en moet dan deur ‘n stortreën van klippe jaag wat na hom gegooi is. https://twitter.com/TimesLIVE/status/909676535052947456/video/1
Volgens Prins het die swaar beskermende motorfietsklere en -valhelm wat hy gedra, waarskynlik sy lewe gered. Hy is ‘n paar keer raak gegooi en die hou wat met die pyp na hom geslaan is, het ‘n duidelike merk aan die voorkant van die helm gelaat.
“Dit was werklik ‘n skrikwekkende ervaring. Dit was duidelik betogers daarop uit was om pyn en skade te probeer veroorsaak. Meer onstellend is die argelose houding van die plaaslike regering. Ten tyde die voorval was daar net ‘n enkele verkeersbeampte naby die toneel.
“Daar was geen polisie aanwesig nie. Eers nadat ek daarop aangedring het, het die verkeersbeampte per radio gevra dat polisieversterkings na die toneel gestuur moet word.
“Vandag het die Wes-Kaapse regering die inwoners van die Kaapse metro weereens gefaal deur nie voldoende voorsorg te tref vir hul beskerming nie.
“Dit is hoog tyd dat polisiëring en die gepaardgaande magte daarvan aan die Wes-Kaap se provinsiale regering oorgedra word as ‘n funksie. ‘n Toekomstige koalisieregering in die Wes-Kaap sal seker maak dat polisiëring effektief toegepas word,” sê Prins.
Kontaknommer: 074 934 3664