Die aankondiging dat die laaste voorraad loodhoudende petrol vir gewone motorvervoer in die wêreld opgebruik is, is 'n belangrike mylpaal in die vervoerbedryf. Dit sal geen direkte uitwerking op Suid-Afrika hê nie, waar die mylpaal reeds in 2006 bereik is. Algerië was die laaste land waar dié bymiddel nog in petrol gebruik is.
Loodhoudende petrol was een van talle industriële ontwikkelings van die twintigste eeu, wat aan die een kant werksverrigting bevoordeel het, maar aan die ander kant negatief op die omgewing en menslike gesondheid ingewerk het.
Sedert lood in die jare rondom 1920 tot petrol toegevoeg is, was dit bekend dat lood 'n gifstof is. Die vertroue dat die hoeveelhede wat vrygestel word te klein sou wees om skade te doen, het egter geheers. Eers gedurende die jare 70 het Amerika, met ander welvarende lande kort op sy hake, begin om daarvan weg te beweeg.
Loodvrye petrol en loodvervangende petrol (spesiaal vir ouer motors wat nie met loodvrye petrol kon ry nie) was uit die staanspoor duurder as loodhoudende petrol. State regoor die wêreld het egter besef dat die hoër petrolkoste tot noemenswaardige besparings op ander terreine sou lei. Dit bewys dat langtermynfaktore wel die botoon kan voer.
Die uitskakeling van loodhoudende petrol beteken nie dat die petroleumbedryf tans omgewingsvriendelik is nie. In wese is die gebruik van ru-olie as energiebron die vrystelling van koolstof wat in 'n vorige geologiese era gebind is.
Daardie binding het die aarde se atmosfeer omskep in 'n gunstige omgewing vir mens en dier met soortgelyke behoeftes. Die ontbinding daarvan het die teenoorgestelde uitwerking.
Volgende deurbrake wat in die vervoerbedryf verwag word, het alles met die gebruik van elektrisiteit te doen. In die laat negentiende eeu het petrol- en elektries-aangedrewe voertuie sterk meegeding, maar petrol het mettertyd die oorhand gekry. Elektriese voertuie het oor die laaste dekades veld gewen, maar is nog ver agter.
In elektriese vervoer is die vraag tans wat die beste manier is om energie te berg – wat die beste "petroltenk" is. Batterye wat gereeld gelaai moet word, ding mee met hibriede voertuie wat 'n gewone petrolenjin met batterye kombineer.
Waterstof steek ook hand op – eintlik 'n klein waterstofaangedrewe kragopwekker, wat krag aan 'n elektriese motor voorsien. Suid-Afrika se navorsing op waterstofenergie is op wêreldstandaard.
Ontluikende tegnologie is altyd opwindend, maar dit skep ook risiko's, veral vir diegene wat dit vroeg aangryp. Tegniese probleme kan nog onopgelos wees en 'n bepaalde tegnologie, waarin groot beleggings gemaak is, kan uiteindelik onlewensvatbaar blyk te wees.
Die VF Plus sien nogtans daarna uit om 'n wêreld te beleef waar die ekologiese impak van vervoer veel kleiner is en waar die totale ekonomie plaaslike, hernubare energie kan gebruik, eerder as ingevoerde petroleumprodukte.