fbpx
Vryheidsfront Plus

Gebrek aan permanente hoofde by Gautengse provinsiale hospitale een rede vir swak dienslewering

Die VF Plus het vasgestel dat ʼn gebrek aan permanente uitvoerende hoofde by provinsiale hospitale in Gauteng een van die redes is vir swak dienslewering.

Ses provinsiale hospitale in Gauteng het geen vaste uitvoerende hoof nie. Dit is: Die Steve Biko-Akademiese Hospitaal, Dr. George Mukhari-Akademiese Hospitaal, Rahima Moosa-moeder- en kindhospitaal, Kopanong-hospitaal, South Rand-hospitaal, en die Tara Mouros-hospitaal.

Dit het geblyk uit ʼn skriftelike antwoord van mev. Nomanto Nkomo-Ralehoko, op ʼn vraag in die wetgewer. (Sien aangeheg).

Dié pos by die Kopanong- en South Rand-hospitaal is onderskeidelik sedert 1 Februarie 2022 en 1 April 2022 vakant.

ʼn Waarnemende uitvoerende hoof is eers op 27 Maart 2023 by Kopanong aangestel en by South Rand het die aanstelling eers op 1 Maart 2023 plaasgevind.

Die poste vir beide is eers op 23 April 2023 geadverteer.

Die roekelose hantering van die leierskap van provinsiale hospitale moet voor die deur van die LUR en die departement van gesondheid gelê word.

Die situasie lei noodwendig tot swakker diens en meer regseise. Die Gautengse regering het selfs ‘n beleid begin volg waar pasiënte wat eise ingestel het, verder behandel word eerder as om skadevergoeding uit te betaal.

Hierdie beleid is onlangs ʼn knou toegedien deur ʼn uitspraak in die Bloemfonteinse Appèlhof waarin aangedui is dat dit nie ʼn uitgemaakte saak is dat alle gevalle van mediese nalatigheid op die wyse hanteer kan word nie.

In die dié geval het die hof beslis dat daar wel skadevergoeding aan die eiser uitbetaal moes word omdat staatshospitale nie die komplekse mediese sorg kan verskaf wat die eiser benodig nie (sien Mashinini v The Member of the Executive Council for Health and Social Development, Gauteng Provincial Government (335/2021). [2023] ZASCA 53 (18 April 2023)).

Die bevinding beklemtoon dat provinsiale hospitale in Gauteng nie sonder kundige leierskap gelaat kan word nie.

Die VF Plus vind dit ook onrusbarend dat twee uitvoerende hoofde tans geskors is hangende ʼn dissiplinêre verhoor, naamlik by die Tembisa-hospitaal en die Pretoria-Wes-hospitaal.

Die VF Plus sal die kwessie rakende gebrekkige leierskap opvolg om te sorg dat hospitale beter begin funksioneer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.