Die ontwykende antwoord van die Gautengse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Morakane Mosupyoe, rondom ‘n vraag na rasgebaseerde finansiële hulp aan sakeondernemings, is ‘n bron van kommer.
Gedurende ‘n virtuele sitting van die Gautengse portefeulje-komitee vir ekonomiese ontwikkeling, is Mosupyoe gevra om te verduidelik waarom die premier, David Makhura, verlede week tydens ‘n wetgewersitting aangekondig het dat hoofsaaklik ondernemings in informele nedersettings finansieel gehelp sal word.
Mosupyoe het aangedui dat sy reeds die vraag in die wetgewersitting beantwoord het. Gedurende die wetgewersitting het sy gesê die vraag rondom hulpverlening aan alle klein-sakeondernemings haar baie ongemaklik maak en ongevraagd is. Sy het later toegegee dat ras nie ‘n faktor sal wees nie.
Die VF Plus is egter skepties hieroor en sal die situasie rondom regering hulpverlening dophou.
Hulpverlening aan ondernemings mag nie rasgedrewe wees nie omdat werkers verbonde aan klein- en medium-ondernemings, wat reeds sukkel om finansieel te oorleef, verder benadeel gaan word.
Selektiewe hulpverlening lei tot verdeeldheid en daarom is dit belangrik dat die ANC-regering die proses van hulpverlening duidelik omskryf om verwarring uit te skakel.
Kontaknommer: 071 640 7283