Die Gautengse departement van infrastruktuur se onvermoë om projekte doeltreffend te bestuur en oordeelkundige besluite te neem, kos die belastingbetaler miljoene.
Uitbreidings en opgraderings by een hospitaal is voor voltooiing gestaak terwyl die kontrak by die ander een onwettig was.
Die bouwerk aan die Kopanong-hospitaal in Vereeniging, wat in 2020 begin het en daarop gemik was om 300 nuwe beddens vir hoofsaaklik Covid-19-pasiënte beskikbaar te stel, is maande daarna onvoltooid deur die kontrakteur gelaat.
R200 miljoen is aan die kontrakteur betaal.
Die VF Plus het die departement gemaan om kontrakteurs wat aangestel word, skriftelik te verwittig dat die departement geen verpligting teenoor subkontrakteurs het nie.
Subkontrakteurs beweer hulle is nie ten volle betaal nie.
In die geval van Western Deep Level-hospitaal in Carletonville, is ‘n ongeldige kontrak tussen AngloGold Ashanti en die departement aangegaan om die hospitaal wat in 2020 leeggestaan het, in ‘n Covid-19-gerief te verander.
Die huurkontrak is na enkele maande onreëlmatig en ongeldig verklaar.
Die departement het R700 miljoen aan die projek bestee om nuwe beddens te koop en opgraderings te doen.
Dit is ‘n skande dat huurooreenkomste tussen partye aangegaan word en die wettigheid van die kontrak nie nagegaan word nie.
Die belastingbetaler se swaarverdiende geld word vermors op ondeurdagte projekte terwyl duisende mense aan Covid-19 gesterf het.
Indien die projekte korrek bestuur was, kon baie lewens gered word.