Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse ANC-regering moet ophou voete sleep en dispuut met nasionale regering verklaar ingevolge wetgewing oor gewraakte e-tolstelsel

Die VF Plus neem met kommer kennis van die beplande regulasies in terme van die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) wat padgebruikers sal weerhou om enige soort voertuiglisensie uit te neem of te hernu indien 'n padgebruiker agterstallige e-tolfooie sou hê.

Die Gautengse ANC-regering het weer by monde van Jacob Mamobolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, 'n voorlegging aan die nasionale regering gedoen om die e-tolstelsel af te skaf. Die VF Plus beskou egter die soveelste pleidooi van die provinsiale ANC-regering as 'n mors van tyd aangesien die nasionale ANC-regering eenvoudig nie daarop reageer nie.

Dit het daarom nou tyd geword vir die provinsiale ANC-regering, indien hy werklik ernstig is oor die keer van die e-tolstelsel, om formeel 'n dispuut met die nasionale regering te verklaar in terme van artikels 41 en 42 van die Wet op die Interregerings-Verhoudinge Raamwerk 13 van 2005.

Indien die dispuut nie in terme van die wetgewing bygelê kan word nie, sal die pad oop wees vir die provinsiale ANC-regering om die kwessie hof toe te neem.

Sou Sanral en die nasionale departement van vervoer voortgaan om die Aarto-regulasies te implementeer, sal die kultuur van wanbetaling van e-tolfooie bloot oorspoel na motorlisensies met die gevolg dat meeste Gautengse padgebruikers eenvoudig met vervalde lisensies sal ry.

Die ware toets vir die erns van die provinsiale ANC-regering om die e-tolstselsel af te skaf, is of hy bereid sal wees om deur die formele voorgeskrewe dispuut-proses van die Wet op die Interregerings-Verhoudinge Raamwerk te gaan.

Die VF Plus het reeds voorheen vir premier David Makhura tydens 'n wetgewers-debat gevra of hy bereid sal wees om die pad te stap. Hy het geantwoord dat dit nie nodig sal wees nie aangesien die huidige vriendskaplike vorm van interaksie met die nasionale regering wel vrugte sal afwerp.

Dit blyk egter dat dit nie waar is nie gegewe die Aarto-regulasies wat beplan word om lisensies te blok.

Dit is duidelik dat Sanral en die nasionale departement van vervoer die pleidooie van premier Makhura en die provinsiale ANC-regering ignoreer en bloot voortgaan met hulle planne om die e-tolstelsel op Gauteng af te dwing ten spyte van duidelike bewyse dat die stelsel geen legitimiteit by die publiek geniet nie.

Dus moet die provinsiale regering nou eenmaal besef dat hy formeel in dispuut sal moet gaan met die nasionale regering en moontlik uiteindelik na die hof.

Voorts beskou die VF Plus hierdie voorgestelde regulasies as ongrondwetlik aangesien die Aarto-wet en regulasies se hoofdoelwitte is om padveiligheid te verbeter en te sorg dat nasionale en provinsiale wette rakende padverkeer nagekom word. Die e-tolstelsel het nie betrekking op enige van hierdie doelwitte nie want dit is bloot 'n betaalstelsel vir opgegradeerde paaie.

Verder meng die regulasies in met die grondwetlike bevoegdhede van die Gauteng-provinsie rakende motorvoertuiglisensiëring in terme van Skedule 4 van die Grondwet deurdat die provinsie nie geken is in die opstel van die Aarto-regulasies wat provinsiale lisensiërings-bevoegdhede aantas nie.

Dus kan die Gautengse provinsiale regering heelwat argumente in 'n hofsaak uitmaak, maar dis te betwyfel of hy die moed sal hê om die nasionale regering hof toe te vat.

Die VF Plus sal weer die provinsiale ANC-regering in Gauteng hieroor konfronteer.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.