fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-wet oor ekonomiese ontwikkeling van informele nedersettings maak dit straks moontlik vir arm wittes om besigheidshulp te ontvang

In 'n eerste onder 'n provinsiale ANC-regering maak die Wet oor die Ekonomiese Ontwikkeling van Informele Nedersettings, wat vandag in die Gautengse wetgewer aanvaar is, dit moontlik vir arm wittes wat daar woon om ook besigheidshulp te ontvang.

Die VF Plus het verseker, al is die wetgewing gerig op die meestal swart inwoners van die nedersettings, dat alle arm persone kan voordeel trek uit die wetgewing wat arm entrepreneurs wil bystaan om suksesvolle besighede in informele nedersettings te skep en die ekonomie daar te stimuleer.

Die VF Plus het voorts al lank op nasionale en provinsiale vlakke dit aan die ANC-regerings gestel dat lokalisme belangrik is en dat daar gefokus moet word op die skep van 'n gesonde besigheidsomgewing in arm gemeenskappe ten einde armoede op 'n volhoubare wyse teë te werk.

Die ANC-regering se ontdekking van die waarde van lokalisme is ironies amper te laat en word nou eers gebruik nadat die ANC se katastrofiese oorhoofse ekonomiese beleid Gauteng teen die toue het.

Die VF Plus gaan egter gebruik maak van die geleenthede wat geskep word in die wetgewing ten einde te sorg dat wittes en bruinmense – met laasgenoemde wat bykans geen sosio-ekonomiese vordering gemaak het sedert 1994 nie – wat deel van arm gemeenskappe uitmaak besighede op die been kan bring of bestaande besighede te groei.

Alhoewel die aanhef van die wet soos gebruiklik verwys na swart bemagtiging, staan dit nie tot uitsluiting van wittes wat deel uitmaak van arm gemeenskappe nie.

Spesifiek klousule 11(g) bepaal dat staatsorgane finansiële hulp kan aanbied aan Suid-Afrikaanse persone wat voorheen of tans benadeel is en wat besigheidseienaars is. In Artikel 19(2) word die reëling herhaal ten aansien van lenings uit die informele nedersettingfonds wat uit hoofde van die wet geskep moet word.

Die volgende wetgewende stap gaan die uitreiking van regulasies wees wat die meganismes van die wet daar sal stel.

Die VF Plus sal die regulasies dophou om seker te maak dit wyk nie af van die wet se bepalings dat alle Suid-Afrikaners wat arm is en woon in informele nedersettings toegang het tot die wet se voordele nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.