Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gauteng se LUR vir onderwys moet eerder gebelgd voel oor die haglike toestand van talle staatskole in sy provinsie

Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, moet eerder aandag gee aan die toestand van talle skole in sy provinsie met onvoldoende infrastruktuur en haglike toiletgeriewe voordat hy voortreflike private skole sonder bewyse as rassisties uitkryt, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Adv. Alberts sê Lesufi se aanval op die private skool Curro Roodeplaat is duidelik deel van ‘n politiek gemotiveerde agenda om alle skole wat oorwegend wit of Afrikaans is, verdag te maak sodat hy dit dan as verskoning kan gebruik om moedertaalonderrig uit te roei.

Hy sê dieselfde word gesien in Lesufi se poging om ‘n groot aantal enkelmedium Afrikaanse skole in Gauteng te dwing om tot dubbelmedium-onderrig oor te skakel deur meer swart leerlinge in te neem.

Volgens adv. Alberts het Lesufi regtens gefouteer deurdat hy in sy oorgretigheid om Curro Roodeplaat by te kom, veroordelende uitsprake in die media gemaak het en ‘n brief met sy besluit om ‘n taakspan aan te stel om die voorval te ondersoek, aan die skool oorhandig voordat hy met die skool gekonsulteer het om hulle weergawe van die gebeure te hoor.

“Dit is duidelik die LUR se fokus is op die verkeerde plek. In stede daarvan om rasgevegte te skep en strooipoppe op te stel wat hy self afskiet, kan hy eerder sy begroting, wat die grootse van die Gautengse regering is, gebruik om agterstande in sy eie skole uit te wis.

“Hy kan dit doen deur bekwame onderwysers aan te stel en hulle streng te bestuur sodat kinders gehalte onderrig kan kry, en hy kan nuwe enkelmediumskole bou waar kinders van alle rassegroepe in hul moedertaal onderrig kan ontvang en nie in ‘n tweede of derde taal wat hulle erg benadeel nie.

“ ‘n Oudit van die drukgroep Equal Education wat by 200 Gautengse skole gedoen is en onlangs uitgereik is, toon aan dat tot ‘n honderd kinders ‘n enkele toilet moet gebruik, wat swakker is as in oorvol tronke. Hieraan moet dringend aandag gegee word.

“Die VF Plus gaan parlementêre vrae aan die minister van basiese onderwys vra om antwoorde te kry oor Lesufi se buitensporige optrede teen skole waar Afrikaans ‘n taal van onderrig is,” het adv. Alberts gesê.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.