Die Gautengse ANC-regering het baie aandag gegee aan die finansiering van tierlantyntjies wat kwansuis misdaad gaan oplos soos hommetuie en paniekknoppies, maar niks is gesê oor die fondse wat sy 30%-e-tolskuld moet delg nie.
Daar is ook niks genoem oor die fondse vir die instandhouding van die Sanral-paaie wat die provinsie moet oorneem nie.
Dit laat die rooi ligte flikker oor die sogenaamde afskaffing van die e-tolstelsel en of die snelweë in Gauteng onderhou gaan word.
Hierdie kommer word beklemtoon deur die feit dat die departement van paaie, vervoer en logistiek se begroting juis met R137 miljoen gesny is.
Die premier, Panyaza Lesufi, praat groot, maar gee klein treetjies.
Sy fokus op veiligheid is sinvol, maar sy aanslag is gegrond op onsinvolle planne wat die aandag aftrek van die bron van die misdaadprobleem.
Die VF Plus het reeds in sy reaksie op die premier se toespraak gesê sy idees om misdaad te bekamp met hommeltuie is ‘n fantasie. Die redes is ‘n wanfunksionele strafregstelsel, ‘n swak polisiediens en korrupsie.
Indien dit nie aangespreek word nie, sal enige plan wat bo-op daardie stelsel moet funksioneer, gedoem wees tot mislukking.
Volgens die begroting sal ‘n opwaartse aanpassing van R199.7 miljoen vir gemeenskapsveiligheid gaan en daarvan sal R26.9 miljoen aan uniforms en vlootdienste bestee word.
Die res van die begroting sal vir misdaadbekamping gaan: R24 miljoen vir die aanstel van 6 000 vredebewaarders en ‘n verdere R60 miljoen aan hul opleiding.
R42 miljoen sal aan voertuie bestee word en R27.5 miljoen aan die ontwikkeling van ‘n e-paniekknoppie-toepassing.
‘n Verdere R8.3 miljoen sal aangewend word vir die huur van hommeltuie, die opleiding van hommeltuigvlieëniers en R10 miljoen vir die huur van helikopters.
Dit klink alles opwindend, maar die begroting is nie daarop gerig om die polisiediens en die strafregstelsel se gebreke aan te spreek nie.
Die inhegtenisneming van duisende vermeende misdadigers beteken niks indien die polisiediens nie sterk sake kan bou en die vervolgingsgesag die persone skuldig kan bevind nie.
Al die pogings en geld wat gebruik word, is bloot versiersuiker op ‘n vrot koek.
‘n Positiewe aspek van die begroting was die aankondiging van die LUR vir finansies, Jacob Mamabola, dat ‘n opwaartse aanpassing van R253 miljoen in onderwys gemaak is om projekte te voltooi en vir die aanbou van klaskamers.
Dis egter heeltemal te min om nuwe skole te bou waarvan daar ‘n dringende behoefte in Gauteng bestaan.
In wese is die begroting duidelik daarop gerig om soveel te bestee as wat nodig is om die ANC te red van ‘n inploffing tydens die 2024-verkiesing.
Intussen sal die inwoners van Gauteng gewoond moet raak aan die sinlose gezoem van hommeltuie bo hul koppe terwyl die e-tolstelsel ongestoord voortgaan om padgebruikers te faktureer.
Die tyd om die ANC te ontsetel in Gauteng kom spoedig nader.
Die VF Plus sal sy rol bly speel as effektiewe opposisie en sal na die 2024-verkiesing ‘n kernrol speel om ‘n koalisieregering saam te stel wat die ANC tot die opposisiebanke sal relegeer.
Tot dan vra die VF Plus die inwoners van Gauteng om vas te byt. Die lig sal weer skyn.