Die VF Plus het die munisipale bestuurder van die Rand West City-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria), Thabo Ndlovu, skriftelik versoek om oop kaarte te speel met die inwoners van Finsbury in Randfontein wat al sestien dae sonder krag sit.
Finsbury is in die donker gelaat nadat die Lafrage-substasie buite werking gestel is weens ‘n brand.
Die party ontvang daagliks oproepe van ontstoke inwoners wat inligting verlang oor wanneer die kragtoevoer herstel gaan word.
Indien die munisipale bestuurder eerlik en opreg met die inwoners is, kan baie frustrasie uitgeskakel word en kan mense die nodige voorbereidings tref. Nou tas almal in die donker rond sonder enige antwoorde.
Dit blyk die ANC-beheerde Rand West City-munisipaliteit hoop die probleem gaan weg indien hulle nie met inwoners kommunikeer nie.
Hierdie inslag van die munisipaliteit het reeds aanleiding gegee tot ‘n protesoptog op 15 Januarie.
Die enigste oplossing vir die inwoners van Randfontein en Westonaria is om die ANC by die stembus te verslaan en te vervang met ‘n verantwoordelike bestuur wat inwoners se belange eerste plaas.
Randfontein en Westonaria verdien beter as die ANC.