fbpx
Vryheidsfront Plus

Eskom eet koek terwyl SA sukkel om brood te bekostig

Eskom wat nou ‘n reddingsboei van R23 miljard van die staat vra, is soos Marie Antoinette wat nie besef het haar land se mense kry swaar nie en gesê het hulle moet koek eet terwyl hulle brood gebedel het, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings.

Dr. Groenewald het met die parlementêre debat oor die spesiale wetsontwerpe in dié verband gesê die VF Plus sal dit nie steun nie aangesien dit Eskom self, en sy alleen-aandeelhouer die regering is, wat die krisis veroorsaak het.

Oor Marie Antoinette het dr. Groenewald gesê die opmerking oor koek was een van die hoofredes waarom die Franse gepeupel se geduld eindelik opgeraak het en waarom haar kop letterlik onder ‘n valbyl afgekap is.

“Vandag kom Eskom, en hy vra die belastingbetaler R23 miljard. Maar Vrydag, oor twee dae, word ‘n tender uitgesit waarin gevra word dat sekere kruideniersware en voedsel gelewer word vir Eskom se korporatiewe kantoor by Megawatt Park.

“Hierdie tender is onder meer vir die gereelde lewering van 300 koeke wat insluit Swartwoudkoek, Bar One-koeke en gebakte vla-koeke.

“Dit beteken die top-bestuur van Eskom leef in weelde en eet koek op die belastingbetaler se rekening. Dan het hulle nog die arrogansie om die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) te vra vir ‘n bykomende 9,4% tarief-verhoging wat darem aangepas is van die aanvanklike 12,3%.

“Dit beteken die belastingbetaler moet net aanhou opdok terwyl die bestuur van Eskom self die krisis veroorsaak het saam met die ANC-regering wat die enigste aandeelhouer is. Hy kan bloot nie sy bates behoorlik bestuur nie.

“Van die 121 kragopwekkingseenhede in Suid-Afrika is daar net 49 wat behoorlik funksioneer. Weens onderhoudswerk wat gedurig agterweë gelaat is, weens die onkundige en verkeerde aanwending van hul arbeidsmag, het ons nou hierdie probleme.

“Eskom sê self 1 183 wittes moet nou uit Eskom padgee. Dit sluit ingenieurs en hoogs geskoolde ambagsmanne in. Maar dan kla hulle oor probleme. ‘n Voorbeeld is Duvha waar ‘n onploffing weens agterstallige onderhoud en onkundigheid meer as ‘n miljard rand se skade veroorsaak het.

“Ek wil aan die regering sê hulle kan bly wees ons leef in die jaar 2015. As ons in die agtiende eeu geleef het, was u koppe ook afgekap ,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.