fbpx
Vryheidsfront Plus

Emfuleni-munisipaliteit wag drie dae om gebarste rioolpyp in Vanderbijlpark te herstel

Ondanks die aanstelling van ‘n nuwe administrateur vir die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is dienslewering steeds beroerd.

Rioolwater het Donderdagaand by verskeie huise in Piet Retief- en Komatierivierstrate in Vanderbijlpark ingestroom nadat ‘n rioolpyp gebars het. Huiseienaars moes drie dae wag vir die nodige herstelwerk.

Die VF Plus bevraagteken die nuwe Emfuleni-administrateur, Gilberto Martins, se besluit om nie van geakkrediteerde diensverskaffers gebruik te maak nie en eerder sy eie voorkeur kontrakteurs aan te stel. Die aanstelling van nuwe kontrakteurs vertraag herstelwerk waar bestaande diensverskaffers dadelik met die werk sou kon begin.

Benewens rioolprobleme ondervind dele van Vanderbijlpark die afgelope vyf dae kragonderbrekings. ‘n Elektriese kabel is Maandag aangekoop, maar dit kan nog etlike dae duur voor herstelwerk afgehandel is.

Die VF Plus het reeds herhaaldelik diensleweringsprobleme in Emfuleni onder die aandag van die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, gebring.

Die party gaan daarop aandring dat die administrateur voor die wetgewerkomitee vir Cogta verskyn om antwoorde te verskaf rondom die uitgebreide diensleweringsprobleme in die gebied.

Navrae: 076 616 2124

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.