Inwoners van Jane Austinstraat in SW1 is radeloos nadat hul oproepe en klagtes al langer as ‘n jaar deur die Emfuleni-munisipaliteit geïgnoreer word. Selfs die kontrakteurs wie namens die munisipaliteit waterlesings neem, het die probleem herhaaldelik aangemeld sonder enige sukses, sê Gerda Senekal, VF Plus se hooforganiseerder in Emfuleni.
Senekal wat ook Emfuleni se burgemeesterskandidaat vir die party is, sê voorts amptenare het ‘n waterlek in ‘n oprit herstel maar nooit die gat wat hul gegrawe het toegegooi nie. “Kort daarna het die buurman se waterpyp ook begin lek – tot so mate dat die water konstant in die straat af vloei. Die onwelvoeglike reuk van “vrot” water hang nou permanent in die lug en die inwoners sê nou: “Genoeg is genoeg. Tot hiertoe en nie verder nie.”
Van die probleme is ook ‘n straatlig wat vir meer as ‘n jaar lank buite werking is. Die elektriese drade van die straatlig hang oop en is gevaarlik. Die inwoner se kragtoevoer na sy huis is ook sonder verduideliking en foutiewelik opgeskort.
Inwoners het die hulp van mnr Frik van Eeden, VF Plus-kandidaat vir die wyk, ingeroep vir dringende bemiddeling. Van Eeden het die munisipaliteit onmiddellik geskakel en binne ‘n paar uur is die kragtoevoer herstel. Die munisipaliteit beweer hulle kon nie ‘n probleem met die elektrisiteittoevoer identifiseer nie en herlei toe oop en bloot krag van die buurman se erf af. Die drade van hierdie “herleiding-konneksie” lê oop en bloot .
Hy het weer die munisipaliteit gekontak en daarop aangedring dat beide die waterlek probleem en die herleiding van krag van die buurman af onverwyld en uiters dringend herstel en reggestel word. Dit het egter nog nie gebeur nie maar die situasie word gemonitor.
Die inwoners is baie dankbaar vir die VF Plus se hulp tot dusver, maar wonder onwillekeurig of die munisipaliteit wel op die klagtes sou reageer indien die VF Plus nie tussenbeide getree het nie. Die VF Plus werk baie hard in Emfuleni en roep gereeld die munisipaliteit tot verantwoording met betrekking tot dienslewering.
Frik van Heerden en Gerda Senekal
Tel: 072 245 8346 076 616 2124