Die Ekurhuleni-metropolisie het ingegryp om mense wat hul vullis na die Norkem-oorlaaistasie neem, te beskerm nadat diewe eiendom soos tablette en beursies uit wagtende motors begin gryp het.
Inwoners van Kemptonpark moet noodgedwonge die Norkem-oorlaaistasie besoek omdat vullisverwydering nie gereeld plaasvind nie.
Motoriste staan soms in rye en wag om vullis af te laai. Misdadigers het hierdie motoriste nou begin teiken en gryp mense se eiendom wanneer hulle besig is om vullis uit motors of bakkies te laai.
Die VF Plus het die Ekurhuleni-metropolisie versoek om mense by die oorlaaistasie teen diewe te beskerm. Verskeie mense is in hegtenis geneem.
Belastingbetalers van Norkempark en Birchleigh se vullisverwydering is deur ‘n private maatskappy behartig wat ‘n paar weke gestaak is. Dit het verstaanbare ontevredenheid onder inwoners veroorsaak.
Die diens is nou weer ingestel en vullis sal nou weer gereeld verwyder word.
Die VF Plus, as koalisievennoot in Ekurhuleni, is bekommerd oor die huidige vullisverwyderingsituasie en sal alles in sy vermoë doen om ‘n oplossing te vind.
Die res van Kemptonpark het slegs twee vullisverwyderingvoertuie wat die dorp bedien.