Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

EFF self is werkers se grootste vyand

(EFF-mosie in parlement: Behandeling van plaaswerkers)

Die EFF wat ‘n debat in die parlement aanvra oor die behandeling van plaaswerkers, is ironies genoeg self een van die grootste vyande van werkers in Suid-Afrika.

Die EFF se aanval op boere is nogtans te wagte gegewe hul ideologies-gedrewe, stereotipiese obsessie met ras.

Die waarheid is dat landbou, selfs in die haglike ekonomiese situasie waarin die land verkeer met die hoogste werkloosheidskoers nóg, een van die ekonomiese steunpilare is wat selfs midde in ‘n resessie en pandemie een van die land se mees stabiele werkverskaffers is.

Voeg hierby uitdagings soos plaasaanvalle en droogtes, siekte en pes onder plant en dier en talle ander, en dit is verstaanbaar hoe uitnemend landbou onder hierdie uitdagende omstandighede vaar.

Die meerderheid boere behandel hul werkers goed en het goeie verhoudings met hulle. Beide boer en arbeider weet ook dat hulle afhanklik is van mekaar.

Die EFF se optrede maak goedkoop politiek van ernstige arbeidsaangeleenthede en mense se bestaan. Indien mense mishandel word, staan dit hulle vry om polisie toe te gaan. Dit geld die EFF ook en dit maak ‘n bespreking hiervan deur ‘n parlementêre ad hoc-komitee oorbodig.

Oor veranderings aan arbeidswetgewing om werkers selfs meer beskerming te gee ten koste van boere, kan die VF Plus net sê dat bestaande arbeidswetgewing reeds die werkers meer as voldoende bevoordeel en beskerm.

Striemende arbeidswetgewing is tewens een van die groot faktore wat ekonomiese groei en werkskepping, ook in die landbousektor, in die wiele ry.

Onlangs is in die media berig oor ‘n voorval waar ‘n vervoermaatskappy op Henley-on-Klip meer as 200 werkers moes aflê en sy deure sluit nadat betogers in EFF-drag die maatskappy se bates aan die brand gesteek het. Dit is wat die EFF ook met die landbou-sektor wil doen.

Landbou maak wêreldwyd groot spronge met die outomatisering van die bedryf. Landbou staan onder geen verpligting om werk te skep nie en optrede soos dié van die EFF sal hierdie meganiese revolusie op landbougebied bloot versnel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.