Dienslewering in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is gister tot stilstand geruk nadat Eskom beslag gelê het op ‘n lopende bankrekening wat aan die munisipaliteit behoort. Eskom het tot dié drastiese stap oorgegaan nadat die munisipaliteit versuim het om die kragverskaffer te betaal.
Padskrapers en munisipale voertuie staan nou langs die pad geparkeer weens ‘n tekort aan brandstof.
Emfuleni het sedert ‘n hofuitspraak op 2 September vanjaar in Eskom se guns, nog nie sy terugbetalingsooreenkoms met die kragverskaffer eerbiedig nie. Die hof het ‘n summiere vonnis van R1,3 miljard teen die munisipaliteit toegestaan.
Die bedrag is deel van Emfuleni se historiese skuld van R1,9 miljard wat sedert 2019 opgehoop het. In totaal beloop die munisipaliteit se skuldlas aan Eskom meer as R3,5 miljard.
Hierdie is die derde poging van Eskom om Emfuleni te dwing om sy uitstaande skuld te betaal of net ‘n betalingsooreenkoms te eerbiedig.
Eskom het in Maart 2016 ‘n hofbevel bekom vir ‘n uitstaande rekening van R615 miljoen.
In 2020 het Eskom op die munisipaliteit se roerende bates beslag gelê waarna ooreengekom is dat Emfuleni R183 miljoen per maand sal betaal om sy skuld aan Eskom te verminder.
Die Emfuleni-munisipaliteit se langdurige finansiële wanbestuur het ook tot gevolg dat krediteure nie aan die einde van die maand betaal gaan word nie en baie gedwing sal word om hul dienste aan die munisipaliteit te stop.
Die VF Plus het verskeie kere die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om sy administrateurspan in Emfuleni te vervang met opgeleide mense wat die munisipaliteit finansieel suksesvol kan bestuur. Die versoeke val telkens op dowe ore ten koste van die inwoners van Emfuleni.
Die enigste manier om Emfuleni uit sy spiraal van wanbestuur te red, is vir inwoners om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en die onbevoegde ANC-beheerde raad te verwyder en te vervang met ‘n bevoegde en veranwoordbare munisipale bestuur.
Inwoners moet van die komende plaaslike regeringsverkiesing gebruik maak om dié doel te bereik. Die verval kan gestop word.
Navrae: 076 616 2124