(Debat in parlement oor die fiskale raamwerk vir 2019/20)
Die ANC-regering het oor ‘n kwarteeu gewys hy is onbevoeg om te regeer of om die land se ekonomie te laat groei. Net ‘n verandering van regering sal dié situasie kan verander.
Tot dit gebeur, word enige poging verwelkom om staatsbesteding te besnoei, soos die aankondiging om parlementslede en provinsiale wetgewerlede se salarisse te verminder.
Daar moet egter ook aandag geskenk word aan die stelsel van salarisverhogings en outomatiese prestasiebonusse aan senior bestuurslede van alle regeringsdepartemente. Dit moet ook beperk word aangesien dit ‘n wesenlike probleem is.
Die VF Plus sê die kabinet moet verklein word en staatsdepartemente moet verminder. Die snel groeiende salarisrekening moet ten alle koste teruggesny word. Om hierby aan te sluit, moet daar ook ‘n werklike bestedingsplafon wees om nie ruimte te laat vir ongemagtigde uitgawes nie.
Ekonomiese groei moet aangewakker word. Daarsonder sal ‘n groot deel van Suid-Afrika se bevolking afhanklik bly van maatskaplike toelaes. Dit werk armoede en werkloosheid in die hand. Om groei te bewerkstelling, is belastingverligting vir sake-ondernemings en individue aller noodsaaklik.
Die brandstofheffing moet verminder word en daar moet weggedoen word met die korrupte en wanbestuurde padongelukkkefonds. Skep eerder wetgewing om eienaars van motorvoertuie te verplig om derdeparty-versekering uit te neem. Daar moet weggedoen word moet e-tol. Die regering moet belasting verdien, nie net invorder nie.
Die ANC is bereid om voedselsekerheid en ekonomiese groei op te offer met die skadelike beleidsrigting van onteiening sonder vergoeding wat hy en die EFF volg. Die beste fiskale raamwerk op aarde met die beste planne, strategie en instellings moontlik om ‘n sinvolle begroting te bewerkstellig, sal nutteloos wees sonder behoorlike regering.
Dringende ingryping is by munisipaliteite nodig. Plaaslike regering laat die fiskus leeg bloei. Maar om dit te vermag moet bo begin word. Die ANC-regering het oor ‘n kwarteeu gewys hy is onbevoeg om te regeer en om die ekonomie te laat groei.
Op 8 Mei vanjaar het die Suid-Afrikaners die keuse om die ANC te vervang met ‘n regering wat dit wel kan doen.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216