fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement van landbou speel met mense van Suid-Afrika se toekoms

(Begrotingsposdebat in parlement: Landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling)

Dit is moeilik om op ‘n mooi manier te sê die departement van landbou is besig om droog te maak en met landbouers en die mense van Suid-Afrika se toekoms te speel.

Voedselsekuriteit en huishoudelike voedselsekuriteit is gonswoorde in die era van Covid-19. Woorde waarvoor die departement baie lief is.

Mens sou juis dink dat weens die huidige omstandighede die departement dit dalk moes prioritiseer. In die lig van die huidige hongersnood tydens die pandemie is die stagnerende begrotingsgroei vir voedselsekuriteit juis kommerwekkend.

Alhoewel die departement ‘n mandaat het vir die implementering van die nasionale voedeselsekuriteitsplan, het die departement geen raamwerk of teiken gestel om voedselsekuriteit te meet nie. Met hierdie in ag geneem, hoe gaan ons ooit werklik voedselsekuriteit en veral huishoudelike voedselsekuriteit verseker?

Sowat 52% van die totale begroting gaan aan provinsies in die vorm van oordragte en subsidies. Herhaaldelike oudits het egter bevind dat dit grootliks wanaangewend word sonder enige aanspreeklikheid.

Ondanks die belangrike en sentrale rol van die departement in landbouproduksie, bioveiligheid en die bestuur van landbourampe, ontvang dié program slegs sowat 15% van die departement se totale begroting.

Die nuwe insluiting van bioveiligheid as 'n subprogram word verwelkom, maar die klein begrotingstoewysing van R3,3 miljoen is kommerwekkend.

Met inagneming van onlangse uitbrake van bek-en-klouseer, vark- en voëlgriep moet inkomsteverliese in ag geneem word en die impak daarvan op kritieke bedrywe binne landbou. Dit het ook ‘n beduidende impak op werkskepping in die landboubedryf. Die klein begrotingstoewysing aan bioveiligheid is gesien in die lig hiervan onvoldoende.

Die departement se paraatheid om die impak van natuurrampe verwant aan klimaatsverandering te verminder en die invloed daarvan op landelike en landbougebiede te versag, is ontoereikend.

Dink net wat hierdie departement vir bioveiligheid en klimaatsverandering sal kan doen indien hierdie departement net sal ophou om geld te mors op projekte wat nie werk nie en sal ophou om geld oor te dra aan provinsies waar die geld gesteel word.

Toe minister Thoko Didiza aan die begin van die sesde parlement as minister van die departement aangestel is, is sy nie met die gewone minagting ontvang waarvoor ander ministers te staan kom nie omdat landbou, in al sy vorme, respek vir haar gehad het weens haar eerste ampstermyn as landbouminister.

Dis tyd dat die minister opstaan vir landbou, nie net vir vandag nie, maar ook vir die toekoms van landbou, voedselsekuriteit en die toekoms van Suid-Afrika.

Staan op, staan saam en staan sterk, want ‘n volk wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.