Die VF Plus is verheug oor die feit dat die departement van handel en nywerheid sy oorsigrol rakende ongerymdhede met Tegeta Coal deeglik en vinnig uitgevoer het.
Nadat inligting rakende moontlike ongerymdhede met die gradering van steenkool by die SABS onlangs tydens ‘n parlementêre komitee van ondersoek na ongerymdhede by Eskom aan die lig gekom het, het die departement van handel en nywerheid dadelik opgetree en die bewerings met senior amptenare van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) opgeneem.
‘n Ondersoek oor die bewerings is dadelik begin. Inligting wat tot dusver aan die lig gekom het, dui op ‘n ‘duidelike verbreking van bestaande protokol’ rakende die gradering van steenkool van Brakfontein/Tegeta by die SABS se laboratorium in Mpumalanga, luidens ‘n verklaring van die parlementêre kommunikasiediens.
Die ondersoek by die SABS het bevestig dat die Guptas handlangers binne Eskom gehad het wat hul maatskappy onregmatig bevoordeel het.
Indien alle departemente só daadwerklik optree, is daar rede om te glo dat staatskaping en korrupsie wel suksesvol bestry kan word.
Die VF Plus sal die ondersoek dophou en seker maak dat alle ongerymdhede tot op die been oopgevlek word en dat die skuldiges so gou doenlik aangekla word en voor ‘n hof verskyn.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216