fbpx
Vryheidsfront Plus

Departement van bosbou, visserye en omgewing wat toekomstige geslagte verteenwoordig swak befonds

(Begrotingsposdebat in parlement: Bosbou, visserye en omgewing)

Die departement van bosbou, visserye en omgewing het die moeilike taak om toekomstige geslagte in huidige besluitneming te verteenwoordig. Die omgewingsimpak van woongebiede, paaie, myne of industrieë, is nie vooraf waarneembaar nie. Daarom moet hierdie departement dit op wetenskaplike wyse deel van besluitneming maak.

'n Goeie begrip van hoe omgewingstelsels werk, is onontbeerlik. Daarvoor is instansies soos die Suid-Afrikaanse Weerdiens, nasionale parke, botaniese tuine en seereservate onontbeerlik. Hier word die kennisbasis wat vir langtermynbesluite nodig is, opgebou.

Die groepering van bosbou en vissery saam met omgewingsake is vanpas. Dit is alles biologiese hulpbronne waar die tydsverloop tussen die neem van 'n besluit en sigbare gevolge daarvan, soms lank kan wees.

Terwyl die langtermyn oorweeg word, moet 'n mens onthou dat die departement ook met die huidige ekonomie werk. Suid-Afrika se natuurskoon en bewaringsgebiede verdien miljarde rand in die vorm van toerisme, terwyl bosbou en vissery direk ontgin word. In al die gevalle moet die belang van kleinskaalse deelnemers met kommersiële ondernemers in ewewig gehou word.

Boonop praat mens van toekomstige geslagte, maar eintlik is ons reeds van die "toekomstige geslagte". Watertekorte, klimaatsverandering en versnelde uitsterwing van spesies is reeds deel van die werklikheid en hou met die besluite van vorige geslagte verband.

Tydsverloop tussen besluite en die gevolge daarvan is nie al wat politieke verbintenis tot omgewingsake verswak nie. Omgewingsverskynsels en -skade versprei oor die aardbol, sonder om landsgrense in ag te neem. Daarom betaal een land dikwels die prys vir 'n ander se swak besluite en geniet 'n land nie altyd self die voordele van goeie besluite nie.

Suid-Afrika is deel van hierdie neiging. Die R8,7 miljard wat die land aan omgewing, bosbou en vissery bestee, is sowat 0,6% van die totale begroting. Volgens die VF Plus behoort die erfenis aan toekomstige geslagte meer werd te wees.

In 'n goed bestuurde ekonomie, sou 'n groter deel van die begroting aan die toekoms bestee kon word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Van die VF Plus se politieke lessenaar
Dalien Steyn

Meningspeilings en verkiesingsuitslae

Daar is die afgelope ruk byna elke week ʼn nuwe meningspeiling wat voorspel hoe politieke partye in die komende verkiesing gaan vaar.

Die jongste dag-tot-dag-meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die ANC nou voorloop in KwaZulu-Natal nadat hy sy groot kanonne ingestuur het om in die provinsie stemme te werf.

LEES MEER
Jongste nuus
Amanda de Lange

Lesufi faal welsynsorganisasies

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, se krisisbestuur om welsynsorganisasies wat nog nie hul diensooreenkomste ontvang het nie

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.