Uitsprake dat wittes grond in Suid-Afrika gesteel het moet stopgesit word aangesien die debat oor grond nie sal vorder solank vals en verdelende narratiewe die gesprek oorheers nie. Dit moet stopgesit word alvorens daar op ‘n verantwoordelike wyse oor die saak gedebatteer kan word.
Daar is baie vertolkings van die geskiedenis. Hier wil ek graag aanhaal wat prins Mangosuthu Buthelezi onder meer daaroor gesê het met die inhuldiging van die Nkome/Bloedrivier-monument op 16 Desember 1998.
“In 1991, selfs voordat verskonings aan die orde van die dag geword het, wil ek namens die Zoeloe-nasie verskoning vra aan die Afrikanervolk vir wat met Piet Retief en die Voortrekkers gebeur het, en die optrede van my voorouers wat hulle pyn en lyding veroorsaak het.”
Ek wil aan prins Buthelezi sê die Afrikaner aanvaar hierdie verskoning. Dit is hoog tyd dat die jong mense van die land hul geskiedenis moet leer by ‘n senior staatsman met integriteit.
Die vraag hier is wat die regering wil doen met grond wat hulle sonder vergoeding wil onteien. Wat gaan met die grond gedoen word?
Ons weet dit is die wit mense se grond waarvan hier gepraat word. Almal sê dit is die wit mense wat die grond moet teruggee. Grondeienaars moet ook deeglik besef dit is nie net landbougrond wat ter sprake is nie. Dit is alle grond, hetsy jy die eienaar van ‘n huis in ‘n dorp of stad is.
Ek wil weer vra waarvoor die grond gebruik gaan word. Indien dit is om te boer en om die landbou te stimuleer, dan sê ek onomwonde die ANC is die rede dat grondhervorming in Suid-Afrika misluk het. Dit is waarom die kwessie nog nie behoorlik aangespreek is nie.
Daar sal onvoorsiene gevolge wees indien daar op hierdie wyse en langs hierdie weg volhard word met die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding. Die VF Plus steun nie die mosie van onteiening sonder vergoeding nie.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216