Dit is jammer dat raadslede verkies om mekaar oor en weer te beledig as om eerder te fokus op werksaamhede van die dag. ‘n Emfuleni-raadsvergadering het Dinsdag in ‘n sirkus ontaard en die Speaker was gedwing om DA-raadslede te vra om die raadsaal te verlaat,” sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.
Die belangrikste agendapunt van die dag was om die goedkeuring van ‘n lening te bespreek om so Emfuleni uit die moeilikheid te probeer kry.
“Instede daarvan het DA-raadslede eerder die munisipale bestuurder se bedanking bespreek en die dorp se swak prestasies daarvoor blameer. In die proses is die VF Plus ook aangeval. Hierdie is duidelik ‘n verkiesingstrategie van die DA.
“Die tweede belangrike besprekingspunt was die moontlike installering van slim-elektrisiteit meters in Emfuleni. Die projekbestuurder moes etlike vrae beantwoord, maar hy kon nie die vrae eerlik en korrek antwoord nie. Die DA-wyksraadslid in wie se wyk die slim-meters geïnstalleer sou word, was ook gedurende die debat tjoepstil terwyl hy weet dat inwoners teen die meters gekant is.
“Dit is ongehoord dat ‘n verkose raadslid nie die belange van sy kiesers in die raadsaal weergee nie. Die kiesers moet hiervan weet.
“Nog ‘n knelpunt is die Ouditeur-generaal se bevinding dat die toekenning van die kontrak nie heeltemal wettig is nie. Wanneer die geld terugbetaal word, sal dit as ‘n ‘onreëlmatige besteding’ beskryf word,” het sy gesê.
Rdl. Senekal het die DA gewaarsku om op te hou om sy moontlike koalisie-vennote met disrespek te behandel. Die DA kan nie op sy eie regeer nie en het die VF Plus en ander partye nodig om ‘n gesamentlike doel te bereik.
“Onreëlmatige kontrakte wat nou deur gestoomroller word, kan ‘n in die toekoms ‘n groot probleem veroorsaak. Ons sal moet waak teen ongerymdhede om so ‘n beter en gesonder toekoms vir die inwoners van Emfuleni te skep.”
076 616 2124