Die chaotiese en wanordelike toestand by die polisie se sentrale vuurwapenregister wys waarom aansoeke vir vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate sloer en feitlik tot ’n stilstand gekom het. (Foto’s hierby aangeheg).
Die agterstand van aansoeke vir vuurwapenlisensies is volgens die polisie tans self 250 000. Aansoeke van vuurwapeneienaars vir lisensies en sertifikate word nie behoorlik geliasseer nie, en soos op die foto’s gesien kan word, lê dit op stapels in gange en kantore tussen ander personeel.
Daar is ’n totale gebrek aan ruimte vir die groot aantal vorms en feitlik geen sprake van ’n werkende liaseerstelsel nie. Sou enige persoon dus navraag doen oor sy dokumentasie, sou dit ’n lang en haas onbegonne proses wees om dit op te spoor.
Die probleem word vererger deur die gebou self. Dit is onveilig en gebrekkig. Onderhoud is swak, daar is ’n strukturele probleem van krake in die mure wat ’n veiligheidsrisiko inhou en die gebou behoort in werklikheid ontruim te word.
Die struktuur is waarskynlik nie ontwerp om die gewig van die groot hoeveelheid dokumente te dra nie. Daar is boonop selfs ’n probleem met rotte in die kantore.
Ek het met die instelling van die nuwe vuurwapenwet reeds gewaarsku dat die wetgewing ’n moeilike administratiewe las op die polisie gaan plaas wat nie hanteer sal kan word nie. Hierdie probleem kom daarom reeds ’n lang pad. Daar is aansoeke wat volgens die polisie self reeds meer as twee jaar agterstallig is.
Die polisie se mikpunt was aanvanklik om binne 90 dae met ’n aansoek te handel. Met die gevolge van die Covid-19-pandemie is dié mikpunt verleng tot 120 dae. Selfs dit is duidelik totaal onmoontlik.
Die VF Plus is van mening dat die huidige wet gewysig moet word. Daar is tans te veel onnodige administratiewe rompslomp rondom lisensiëring. Vuurwapens behoort net een keer gelisensieer te word sonder die vyfjaarlikse hernuwing. Dit sluit bevoegdheidsertifikate in.
Daar moet ‘n behoorlike elektroniese stelsel in gebruik geneem word soos by die inkomstediens om verwerking te vergemaklik waar personeel selfs van hul huis kan voortgaan om te werk. Die bestuur is swak en ’n tekort aan personeel vererger die probleem.
’n Verdere oplossing sou wees om die stelsel te privatiseer. In 2010 het die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, ’n taakspan saamgestel oor probleme met aansoeke. Aanbevelings is toe reeds gemaak wat nie nagekom is nie.
In Maart vanjaar het die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, weer ’n besoek aan die vuurwapenregister gebring en ernstige gebreke in die huidige Polvin-stelsel uitgewys wat daartoe lei dat inligting foutiewelik gelaai word.
Daar moet nou dringend aandag aan die saak gegee word. Alle vuurwapeneienaars en -handelaars word in die steek gelaat omdat ’n noodsaaklike diens wat aan die publiek gelewer moet word, tans nie gelewer word nie.