Die VF Plus veroordeel die voorval vandag in Koster waar drie ondernemings in ‘n plaaslike winkelsentrum afgebrand het weens die nalatigheid van die ANC-beheerde Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit (Derby, Koster, Swartruggens).
Alhoewel die brandweer op die toneel opgedaag het, het die trokke geen water gehad nie. Hulle moes dus weer vertrek om die brandweerwaens met water te gaan opvul.
Die brandkraan op die sypaadjie het ook nie die nodige koppelstukke gehad nie en kon nie gebruik word nie.
Die VF Plus het intussen met boere en plaaslike sakemanne in die omgewing geskakel om bystand te verleen met hul privaat-brandbestrydingstoerusting.
Dit is ‘n skande dat die inwoners van Koster weereens moet ly onder die wanbestuur, nalatigheid en onbekwaamheid van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.
Hierdie ramp kon voorkom geword het as die munisipaliteit bloot sy basiese verpligting nagekom het om ‘n werkende brandweerdiens daar te stel.
Die VF Plus bedank die plaaslike boere en sakelui wat gehelp het en voorkom het dat verdere skade aan ondernemings aangerig word.