Die Mangaung-metro het in antwoord op vrae van die VF Plus oor die verwaarloosde dieretuin in Bloemfontein en die sogenaamde nuwe dieretuin by Kwaggafontein, dit duidelik gestel dat die burgemeesterskomitee besluit het daar geen verdere ontwikkeling by Kwaggafontein gaan plaasvind nie.
Hierdie besluit is reeds in Oktober 2018 geneem tydens ‘n lekgotla van die burgemeesterskomitee onder leiding van die voormalige uitvoerende burgemeester, me. Olly Mlamleli.
Die ANC-regering van die metro het hierdie erfenisbate tot niet laat gaan en daar is omvattende skade aan die terrein aangerig. Die eens trotse dieretuin wat tot die ekonomie van die stad bygedra het, is vernietig.
Die Bloemfonteinse dieretuin het in Maart 2020, 151 diere uit die dieretuin verskuif en na 114 jaar finaal sy hekke gesluit. Dit moes gedoen word omdat talle diere in die dieretuin gevrek het en die metro glo nie meer finansieel in staat was om behoorlik na die diere om te sien nie.
Volgens die vorige waarnemende stadsbestuurder, Teboho Maine, is daar slegs buffels in die dieretuin en ook geen ander diere by die terrein in Kwaggafontein nie. Die metro dra geen kennis van waar die diere is wat uit die dieretuin verwyder is nie.
Die waardevolle 22ha grond waar die dieretuin in 1910 tot stand gebring is, is ‘n nasionale erfenisterrein met 14 erfenisbates. Dit sluit in 'n historiese tremkaartjieskantoor, die eerste teerstraat in Bloemfontein, asook die roostuin wat in 1925 geopen is.
Dit is noodsaaklik dat die erfeniswaarde in ag geneem moet word met enige toekomstige ontwikkeling van die terrein.
Die metro het op dieselfde wyse die Arthur Nathan-swembad verwaarloos en toegelaat dat die erfenisterrein in ‘n bouval ontaard.
Die VF Plus het reeds ‘n versoek gerig tot die nuutverkose burgemeester, mnr. Mxolisi Siyonzana, dat dringende stappe geneem moet word om die verdere verval van die dieretuin en die Arthur Nathan-swembad te voorkom en om onmiddellik noodsaaklike herstelwerk te doen.
Die verwaarlosing van hierdie bakens in ‘n gemeenskap en die verlies van die geskiedkundige waarde, is die finale doodspyker vir plekke wat eens Bloemfontein se kroonjuwele was.
Navrae: 082 305 1540