Die brand van bande voor die Noord-Kaapse departement van onderwys se distrikskantoor in Kimberley, het beelde van 'n vorige era in Suid-Afrika se onderwysgeskiedenis opgeroep. Hierdie keer gaan dit egter nie oor "Liberation before Education" nie, maar oor wanbestuur dekades ná bevryding.
Ouers kla dat die elektroniese aansoekproses vir skole nie werk nie en dat kinders wat betyds aansoek gedoen het, nie geplaas is nie. Informele gesprekke met ouers dui daarop dat daar wel genoeg plek in skole is, maar dat ouers verkies om hulle kinders nie in daardie skole te plaas nie. Dit is omdat die gehalte van onderwys in alle skole nie ewe goed is nie.
Die enigste amptelike onderskeid tussen skole in Suid-Afrika is tussen openbare – en onafhanklike skole. In werklikheid is daar selfs 'n groter onderskeid tussen skole wat skoolfooie van ouers verhaal en skole waar ouers daarvan vrygestel is. Laasgenoemde groep skole is veronderstel om groter bystand van die staat te ontvang, om gehalte onderrig vir alle Suid-Afrikaanse kinders te verseker. Die vraag is of dit die geval is.
Die VF Plus wil die geleentheid gebruik om by herhaling te waarsku dat die staat nie sy plig om gehalte onderwys te voorsien, mag ontduik nie. Openbare skole is 'n vennootskap tussen ouers, die staat en onderwysers. Elke kind is op gehalte onderwys geregtig en die staat moet sy deel van die verpligting nakom.
As 'n skool se personeel aan 'n vakbond behoort wat stakings bo klasgee verkies, die staat sy hulpbronne nie goed bestuur nie en ouers nie verseker dat hulle kinders stiptelik en getrou op die skoolbanke sit nie, is die gevolg 'n gebroke onderwysstelsel.
Hierdie probleem is nie uniek tot die Noord-Kaap nie en sal deur die VF Plus op nasionale en provinsiale vlak hanteer word.