fbpx
Vryheidsfront Plus

Besluit van Nasionale Loterykommissie om DBV-befondsing te staak is kortsigtig

Die besluit van die Nasionale Loterykommissie om nie meer geld aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te gee nie is kortsigtig en jammer, en gaan groot dierelyding in veral die minder gegoede en afgeleë gemeenskappe veroorsaak.

Die DBV het pas in ‘n verklaring aangekondig dat hy deur hierdie besluit gedwing sal word om die gratis dienste wat in ‘arm gemeenskappe’ gelewer is, drasties in te kort.

Volgens die DBV is daar veral ‘n dwingende nood om hulp te verleen aan werkdiere soos donkies, perde en beeste wat juis in afgeleë gebiede vir werk en vervoer gebruik word. Dié belangrike diens word reeds die afgelope 62 jaar gelewer en sal nou moontlik gestaak moet word indien ander befondsing nie bekom word nie.

Die Kommissie het laat blyk dat die fokus van befondsingprojekte verskuif het en dat daar voortaan op ‘armoedeverligting’ gefokus gaan word.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het oorsig oor die Loterykommissie, en die VF Plus sal dié aangeleentheid gewis op die agenda plaas met ‘n versoek aan die voorsitter om die besluit van die kommissie te laat herroep.

Die beskawingspeil van ‘n gemeenskap kan direk gemeet word aan die wyse waarop hy sy diere behandel. Liefde tussen mens en dier en die versorging van die diere het ‘n helende effek op ‘n gemeenskap.

Albert Schweitzer het gesê as jy nie deernis vir alle lewende wesens het nie, sal jy nooit innerlike geluk ervaar nie. ‘n Gemeenskap wat sy kop wegdraai van diere se lyding sal inderdaad ‘n siek en stukkende gemeenskap wees.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.