(Parlementêre begrotingsdebat: Statistiek SA)
Sonder akkurate statistiek oor die land en sy inwoners kan daar op regeringsvlak nie deeglike toekomsbeplanning gedoen word nie en kan ekonomiese en ontwikkelingsdoelwitte nie bereik word nie.
Die probleme wat al hoe meer sigbaar raak by Statistiek SA, soos onlangs duidelik na vore gekom het met die nasionale sensusopname, is daarom uiters kommerwekkend.
Deeglike beplanning strek veel wyer as regeringsdepartemente en die begroting waar kritiese toewysings op bevolkingsyfers en ander faktore gegrond is.
Die data van Statistiek SA is ook van kardinale belang vir onder meer die privaatsektor, die akademie en nie-regeringsorganisasies wat gebruik maak van Statistiek SA se sowat 250 opnames en verslae wat oor die tydperk van ‘n jaar uitgereik word.
Hierdie entiteit moet daarom deeglik befonds word en daar moet toegesien word dat die geld sinvol aangewend word.
Die onlangse sensusopname met ‘n begroting van meer as R2 miljard het ernstige gebreke hieroor blootgelê. Benewens die feit dat die finalisering van die opname herhaaldelik uitgestel is, het ander probleme deurlopend opgeduik.
Dit het gewissel van probleme met vervoer vir veldwerkers, tegnologiese uitdagings met die rekenaartablette en gebrekkige betaling aan ‘n kleiner veldwerkerskorps as met die vorige opname in 2011.
Die groot aantal vakante poste en hoë personeelomset waar kundigheid verlore gaan, bring geen stabiliteit nie en is ‘n groot deel van die probleem.
Sedert aanvanklike begrotingsbesnoeiings sowat ses jaar gelede begin is, is die personeelgebreke as ‘n probleemarea geïdentifiseer.
‘n Bykomende toedeling van R132 miljoen oor die medium termyn, waarvan R44 miljoen begroot is vir die 2022/23-finansiële jaar vir die vul van sleutelposte, word daarom verwelkom.
Hierdie poste moet so gou moontlik gevul word met meriete as enigste maatstaf.
Alhoewel die sensusopname gebreke met die stelsel vir datavaslegging blootgelê het, moes dit verander en vernuwe. Die gevolge van Covid-19 het die proses versnel.
‘n Toewysing van R173,5 miljoen om hierdie probleme uit te stryk, sal hopelik die gewenste uitwerking hê om statistiek vinniger en deegliker te bekom, te verwerk en te versprei.
Anders as met die meerderheid staatsentiteite, is ‘n geraamde 89% van die Suid-Afrikaanse publiek steeds van mening dat Statistiek SA ‘n geloofwaardige instansie is.
Hierdie reputasie mag dalk effe geskaad wees ná die afgelope sensusopname, maar dit kan reggestel word deur die uitgewysde tekortkominge vinnig en deeglik reg te stel.