Die omstrede Bela-wetsontwerp is vandag, met die teenstem van die VF Plus, DA en ACDP, aanvaar in die Nasionale Vergadering (NV).
Dit volg na ‘n maandelange toutrekkery tussen die ANC en verskeie belangegroepe wat hul plek langs politieke partye in teenstand daarteen ingeneem het.
Die proses wat nou moet volg, is dat provinsiale wetgewers die wetsontwerp moet oorweeg aangesien provinsiale regerings vir die implementering daarvan verantwoordelik sal wees.
Omdat daar slegs op drie plekke per provinsie openbare verhore gehou is, kan provinsies besluit om hul eie, meer omvattende proses te volg.
Eers ná provinsiale wetgewers opdrag aan hulle lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gegee het, kan die liggaam daaroor stem.
Voordat die president dan die wetsontwerp met sy handtekening tot wet verhef, kan verskeie regsaksies verwag word.
Die wesenlike beswaar teen hierdie wetsontwerp is dat dit die skikking van 1994 verbreek – en boonop die gebreke daarvan ontbloot.
Wat onderwys werklik benodig, is ‘n veelvoud van kulturele owerhede wat onder meer bevoegdheid oor onderwys het.
Sulke owerhede moet nie net onderwys bestuur nie, maar ook seggenskap oor inhoud, kurrikulum en eksaminering hê. Dan kan elke skool self besluit onder watter owerheid om te staan.
Die pad waarop Suid-Afrika tans loop, is die enigste wat in ‘n eenheidstaat moontlik is: Een van voortdurende botsing tussen groepe wat elk sy sin wil hê. Dit is juis aan die grondslag van die eenheidstaat: Daar kan net een owerheid en een beleid wees.
Selfbeskikking, wat onder andere kulturele outonomie insluit, is ‘n wyse om dié soort botsing te ontlont.
Die ANC het egter vandag besluit om die meerderheid wat hy tot met die 2024-verkiesing het, te gebruik om die pad van konflik te loop.
Onderwys verdien beter as die ANC.