Die ANC-beheerde raad van die Madibeng (wat bestaan uit Brits, Mooinooi en Hartbeespoortdam) se plaaslike munisipaliteit het nieteenstaande teenkanting van die VF Plus voortgegaan om vyf ongeldige senior aanstellings in die munisipaliteit te doen en sodoende bewys hy is nie bevoeg om op enige vlak te regeer nie.
Notules van die vergadering vroeër vandeesmaand toon aan dat die sekretaris die raad wel die Speaker in kennis gestel het dat daar nie ‘n kworum teenwoordig is nie. Daar is nogtans voortgegaan en vyf persone is in senior, uitvoerende poste aangestel.
Hulle is: Mnre. P. Raputsoa (waarnemende munisipale bestuurder), D. Dliwayo (waarnemende direkteur: Infrastruktuur en tegniese dienste), D.N. Pule (waarnemende direkteur: Menslike nedersettings en beplanning), C. Hoffmann (waarnemende finansiële hoofbeampte) en S.T.N. Mnisi (direkteur: Ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou).
Hierdie openlike minagting van reëls, regulasies en wetgewing wat munisipaliteite rig is een van die redes waarom plaaslike regering in Suid-Afrika onder die ANC ‘n totale mislukking is. Die demokrasie se hoekstene is gevorm deur reëls en regulasies wat die ANC-beheerde munisipaliteit verontagsaam en dit bewys dat die ANC nie omgee oor die demokrasie nie.
Die werk wat nou gedoen gaan word waarby enige van hierdie vyf persone betrokke is, gaan verkwiste en onreëlmatige uitgawes wees van belastingbetalers se geld, aangesien die aanstellings onwettig is en enige besluit wat deur hulle geneem sou word, daarom onwettig sal wees.
Nieteenstaande die beswaar van die VF Plus en die vermaning van die sekretaris, het die raad op minagtende wyse die aanstellings goedgekeur.
Die VF Plus het reeds ‘n dringende skrywe aan die speaker gerig om daarop te wys dat die aanstellings ongeldig is en om te versoek dat die aanstellings op die korrekte wyse gedoen word. In hierdie geval kon die vergadering eerder vir 24 uur uitgestel word om ‘n kworum byeen te kon kry.
Die VF Plus sal sulke onreëlmatighede nie duld nie en sal namens die inwoners van die gebied terugslaan om seker te maak dat die munisipaliteit wettiglik en behoorlik funksioneer.
Kontaknommer: 079 409 8342