Dit is skokkend dat die burgemeester van Mogale City, Patric Lipudi, besluit om ‘n raadsvergadering op dieselfde dag as ‘n lank beplande misdaadberaad in die dorp te hou, sê Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid in Mogale City.
“Lipudi se arrogansie strek verder met die stigting van ‘n soortgelyke inisiatief – die Misdaadbestryding Indaba (Crime Fighting Indaba).
“Burgemeester Lipudi se onbetrokkenheid by die Mogale City-misdaadforum is skokkend en die VF Plus glo dat hy nie besef hoe hoog die misdaadsyfer is nie en die geweldige emosionele impak wat dit op inwoners het nie. Dit is ook jammer dat hy ‘n raadsvergadering wat geskeduleer was vir 23 Augustus 2017 op kort kennisgewing na 30 Augustus 2017 verskuif het. Dit beteken geen raadslid kan die beraad bywoon nie.
“Die inisiatief word ondersteun deur owerhede, sake- en gemeenskapsorganisasies wat hande vat om die strate van Krugersdorp weer veilig te maak. Die voormalige burgemeester het gereeld met die forum vergader en hulle werk ondersteun,” sê rdl. Steenkamp.
Tydens die beraad op 30 Augustus 2017, onder voorsitterskap van dr. Fay Hodza (senior lektor by Monash SA), sal bekendes soos, Lt.-genl. Mothiba (waarnemende nasionale kommissaris), dr. Rudolph Zinn (verbonde aan Unisa), dr. Johan Burger (senior navorser vir die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en Ian Cameron (hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum) die vergadering toespreek. Meer as 600 afgevaardigdes uit alle sektore word verwag.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op burgemeester Lipudi om met MCMF saam te werk en so ‘n oplossing te vind om die mense van Krugersdorp en ook die Wes-Rand na ‘n misdaadvrye omgewing te lei.”
082 806 7891