(Debat in Gauteng-wetgewer oor die transformasie van die erfenis-landskap)
Die VF Plus het vandag in die Gauteng-wetgewer tydens 'n debat oor die transformasie van Suid-Afrika se erfenis-landskap, dit duidelik gestel dat die ANC se fokus op die skuif van beelde tydens die Covid-19-pandemie, gelykstaande is aan die skuif van die dekstoele op die Titanic.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie het 'n enorme inkomste-gaping wat net groter word terwyl die land die hoogste werkloosheidskoers in sy geskiedenis ervaar. Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat die ANC sy gebrek aan goeie ekonomiese beleid en uitkomste probeer verdoesel deur werklike brood met simboliese brood te vervang.
Die VF Plus het hierdie aanmerkings gemaak na aanleiding van 'n toespraak oor die transformasie van die erfenis-landskap deur die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, in die Gautengse wetgewer.
Die minister se standpunt dat mense in opstand sal kom indien die erfenis-landskap nie transformeer nie, is deur die VF Plus gerepudieer. Die waarheid is eerder dat mense in opstand sal kom indien hulle honger bly en werkloosheid nie drasties verminder word nie.
Daar het alreeds opstande teen die ANC ontstaan weens die gewetenlose Covid-19-korrupsie wat onlangs plaasgevind het. Daarom moet ekonomiese groei dringend aandag geniet.
Die VF Plus glo wel in 'n verantwoordelike erfenisbeleid. Sodanige beleid moet voldoen aan 'n paar kernwaardes. Eerstens moet erfenis nie gebruik word om 'n volk of groep te demoniseer nie. Verder moet geskiedenis bewaar word sodat die foute van die verlede nie herhaal word nie.
Enige erfenisbeleid moet ook die verskillende geskiedenisse, kulture en tale van Suid-Afrika respekteer.
Indien die waardes ernstig opgeneem en toegepas word, sal ons 'n positiewe toekomsvisie kan skep waar almal mekaar respekteer.
Navrae: 082 391 3117