Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC se mislukking met openbare ondernemings toenemend op private sektor gepak

Die ANC-regering is op verstommende wyse besig om die private sektor en die publiek toenemend die skuld te gee vir die probleme by Eskom en by ander openbare ondernemings.

Eers het die minister van energie, Gwede Mantashe, vroeër die week in ʼn radio-onderhoud met 702 (My Broadband; Mantashe blames private sector for load-shedding – 1 Mei 2023) gesê die private sektor moet die skuld kry vir beurtkrag en Eskom se geldprobleme.

Mantashe het luidens die berig gesê ‘n gebrek aan belangstelling van die private sektor om in nuwe kragstasies te belê, het Suid-Afrika se energiekrisis veroorsaak.

Gister het die adjunkminister van openbare ondernemings, Obed Bapela, op ʼn vraag van die VF Plus in die nasionale raad van provinsie (NRP) hierop voortborduur.

Volgens hom kan geen minister of adjunkminister verantwoordelik gehou word vir die verval van openbare ondernemings nie.

Hy sê dat misdadigheid soos diefstal by Eskom ʼn “gemeenskapsprobleem” is, aangesien diefstal wyd algemeen in Suid-Afrika plaasvind.

Dit is duidelik dat die ANC-regering geen verantwoordelikheid wil neem vir sy mislukkings nie. Die fiasko met openbare ondernemings word nou op ʼn skynbaar georkestreerde manier op die publiek afgeskuif.

Die VF Plus se aanvanklike vrae aan die minister was waarom die regering so lank neem met die besluit oor die moontlike privatisering van openbare ondernemings, wel wetende van die ernstige probleme by die ondernemings.

Die minister is ook gevra of hy as minister die privatisering en sluiting van sommige ondernemings steun.

In antwoord hierop het Bapela geantwoord dat daar tans ʼn verslag hieroor saamgestel word.

Dit sal onder meer aandui watter ondernemings moet sluit, watter na ander departemente geskuif gaan word en watter steeds gered kan word.

Volgens hom is daar nog nie ʼn bepaalde datum wanneer die verslag voltooi gaan wees nie. Dit sal volgens hom “binnekort” geskied.

Die verslag sal dan aan president Cyril Ramaphosa oorhandig word en daarna aan die parlement.

Hy het verder genoem dat die skuld-las van staatsondernemings ’n groot rol speel, asook staatskaping.

Dit is absoluut onaanvaarbaar van die ANC om sy eie onbevoegdeheid, wanbestuur en korrupsie op die publiek te probeer pak.

Hierdie desperate spronge word gemaak in ʼn poging om voor die verkiesing aanstaande jaar sy hande in onskuld te was. Dit sal nie werk nie. Die publiek sal nie na dertig jaar van ANC-mislukkings so maklik geflous word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.