Die insameling van belasting deur die ANC begin aan die immorele grens weens die ongebreidelde vermorsing en wanbesteding daarvan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.
Adv. Alberts het vandag met die Mini-Begroting se Verdeling van Inkomste-Wysigingswetsontwerp 2016 gesê Suid-Afrika is by ‘n kruispad en diep verdeel op vele terreine en dapper leierskap is nou nodig om ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig.
“Meeste mense sal saamstem dat die insameling van belasting deur die ANC-regering ‘n immorele oefening geword het omdat die besteding daarvan in sonde geskied. Meeste mense weet ook dat waar wapens verskaf word vir immorele dade van terreur, dan moet die voorsiening van wapens gestaak word.
“Insgelyks bestaan daar iets soos monetêre terreur waar belastinggeld gebruik word vir immorele en twyfelagtige doeleindes. Indien dié terreur ‘n sekere vlak van staatskaping bereik, dan mag die belastingbetalers moontlik hul steun onttrek.
“Monetêre terreur is ‘n uitgerekte proses en werp sy slagoffers onder ‘n juk van hulpeloosheid, hongersnood en verarming.
“Die gekose wapens in hierdie stryd is bekend; die toekenning van geld aan disfunksionele provinsiale regerings, aan bankrot semi-staatsinstellings wat geen waarde tot die ekonomie toevoeg nie, deur mense en ‘n besondere familie onbehoorlik te verryk en aan die ander kant geld van eerbare diensverskaffers te weerhou en in bankrotskap te dwing, en om die produktiewe sektore as melkkoei te gebruik vir die heersende elite wat self niks skep of bydra nie.
“Om hierdie probleem te herstel gaan moed verg. Die minister kan begin deur nuttelose departemente, soos die departemente van arbeid en sport, te ontbind. Voeg die departemente van basiese- en hoër onderwys saam. Amptenare wat nie diensverskaffers binne 30 dae betaal nie moet persoonlik daarvoor boet deur hul salaris te verbeur totdat betalings geskied.
“Hersien die industriële beleid wat nie werk skep nie en beweeg weg van ras as ‘n merker vir ekonomiese ontwikkeling. Hierdie is enkele van baie moontlikhede.
“Die wit minderheid van die land het rede om te vra waarom hulle moet aanhou om ANC-regering te finansier wat vinnig is om ‘n bejaarde wit vrou weens rassisme te vervolg, maar hom doof hou vir ‘n parlementslid wat dreig om alle wittes eendag uit te moor.
“Indien u enigiets vir die land se wit belastingbetalers voel, wys dit deur kragdadig teen hierdie persoon op te tree,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403