(Parlementêre debat: Die toename in geweldsmisdaad in Suid-Afrika en die regering se verantwoordelikheid om burgers se lewens en hul eiendom te beskerm)
Misdaad in Suid-Afrika is buite beheer, maar wanneer die ANC-regering met die realiteit daarvan gekonfronteer word, probeer hy die fokus wegskuif van sy onvermoë om misdaad te bestry en die burgers van die land te beskerm.
Die regering het ingevolge Artikel 205(3) van die Grondwet ‘n plig om die land se inwoners en hul eiendom te beveilig.
Die teenoorgestelde gebeur egter en die strafregstelsel word effektiewelik deur die regering ondermyn soos gesien kan word in die saak van die #FeesMustFall-aktivis, Kanya Cekeshe, wie se aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis van agt jaar tronkstraf misluk het.
In hierdie geval het Ronald Lamola, minister van justisie, gesê sy departement is besig om Cekeshe,
te help met ’n aansoek om ’n presidensiële kwytskelding van pres. Cyril Ramaphosa te kry. Dit beteken selfs sy misdaadrekord sal uitgewis word. Cekeshe is in hegtenis geneem en gevonnis vir ernstige openbare geweldpleging.
Die situasie word vererger deur korrupsie en swak bestuur. Sowat vierduisend polisiebeamptes wat die publiek moet beskerm, het self misdaadrekords.
Statistiek wys dat minder as 18% van alle aangemelde misdaad eindelik in die hof beland. Dit beteken misdadigers se kans om in Suid-Afrika met misdaad weg te kom, is sowat 82%. Dit is ‘n duidelike bewys van die regering se onvermoë om misdaad te bestry.
In sommige gevalle is polisiebeamptes onwillig om op te tree en om op klagtes van slagoffers te reageer. ‘n Voorbeeld is die boer van KwaZulu-Natal, Anton Pitout, wat onlangs aangerand is deur plaaswerkers waarna polisiebeamptes geweier het om sy klag te aanvaar.
Al sewe kontakmisdade in Suid-Afrika het die afgelope jaar toegeneem. In vergelyking met die internasionale moordsyfer van 7 uit 100 000 mense teenoor Suid-Afrika se 37 uit 100 000, is geweldsmisdaad in die land duidelik buite beheer. Suid-Afrika het onveilig geraak om in te woon.
Daar is oplossings nodig. Die polisiemag moet bemagtig word om misdaad te voorkom en die strafregstelsel moet reggeruk word sodat misdadigers vervolg en gestraf kan word. Dit beteken dat oorlog verklaar moet word teen korrupsie.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216