fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering moet nie die goeie trou van SA boere gerig skat nie

Die ANC-regering moet ophou om met die toekoms van Suid-Afrikaanse boere en voedselsekerheid in die land te dobbel vir sy eie politieke gewin, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou, bosbou en visserye.

Dr. Groenewald het vanaand met dié departement se begrotingspos-debat gesê die minister van landbou, bosbou en visserye, onderskat die intelligensie van boere as hy hulle aan die een kant probeer paai terwyl die minister van grondsake en landelike ontwikkeling die teenoorgestelde doen.

Hy sê die ANC-regering is deur dié twee ministers besig om die sogenaamde ‘good cop, bad cop-speletjie’ met die boere te speel.

“Die minister van landelike onwikkeling en grondhervorming is die ‘bad cop’. Hy moet vertel wat die ANC beplan met grondhervorming en dat die regering die boere se grond gaan vat. Dan kom die minister van landbou as die ‘good cop’ en paai die boere deur te sê politici moet ophou om emosionele uitsprake te maak.

“Indien u eerlik en opreg met die boere was, dan sou u vandag in die parlement vir die politici kom sê het hulle moet ophou om emosionele uitsprake te maak.

“Die adjunk-minister van landbou het uitsprake gemaak dat hy die probleme om plaasmoorde sal oplos. Hy is nie eens hier vandag nie. Dit wys wat hy werklik van die boere dink. Toe hy as kommissaris van polisie wel iets daaraan kon doen, het hy niks gedoen nie.

“Die ANC moet die boere nie probeer mislei nie. U gaan uitgevang word. En dan gaan die argwaan van die boere tien keer erger wees. As hulle jou eers vertrou en jy stel hulle dan teleur, sal jy nie weer vertrou word nie.

“Toe die leier van die VF Plus adjunk-minister van landbou was, het hy telkemale in die kabinet skadelike voorstelle oor grondhervorming gekeer deur die praktiese gevolge daarvan uit te spel. Nou dat hy nie meer daar is nie, gebeur al hierdie dinge.

“Die bevolking raak groter, en boere wil net boer. Hulle wil kos vir die land produseer, en die regering moet dit vir hulle makliker maak. Indien dit nie gebeur nie, sal daar nie uitbreidings wees nie, en gaan voedsel-onsekerheid sonder twyfel in die land ontstaan,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.