Met die ANC-regering aan bewind het Suid-Afrika eintlik 365 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders nodig, en nie net sestien dae soos tans nie.
Vroue word onder meer gefaal deur die land se polisie- en regstelsel aangesien slagoffer-ondersteuning ná ‘n traumatiese voorval meestal skokkend is.
Die VF Plus in die Vrystaat het onlangs ‘n vrou van Botshabelo in Mangaung gehelp wat deur vier mans verkrag is. Sy het haar aanvallers geken, hulle uitgewys en verskeie kere teen hulle getuig. Elke keer tydens haar getuienis moes sy weer die emosionele trauma herleef.
Tussen getuienislewering moes sy digby die leier van haar verkragters sit en wag. Om alles te kroon het die helfte van die dossier verdwyn. Dit is een voorbeeld oor hoe die polisie en die regstelsel die land se vroue in die steek laat.
Selfs die regering laat vroue in die steek deur ‘n kwotastelsel wat bloot op kosmetiese wyse aangewend word en die boodskap sodoende uitstuur dat vroue nie werklik gelyk aan mans is nie en dat ‘n kwotastelsel hulle moet help om mededingend te wees.
Die huidige stelsel moet vinnig aangepas en verbeter word om vroue te beskerm, beginnende by ‘n polisie- en regstelsel wat werklik omgee vir vroue van Suid-Afrika.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216