fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

ANC-regering in Mpumalanga weier om leefstyloudits te doen nieteenstaande beloftes

Die ANC-regering in Mpumalanga het vanoggend weereens 'n versoek van die VF Plus om leefstyloudits op provinsiale staatsamptenare uit te voer in die plaaslike wetgewer geweier.

Dit is teenstydig met vorige beloftes van die premier, me. Refilwe Mtsweni-Tsipane. Sy het voorheen onderneem om hierdie oudits en ander ondersoeke na amptenare en politici in die provinsie te doen in 'n daadwerklike poging om korrupsie uit te wis.

'n Onlangse vaardigheidsoudit in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit het aan die lig gebring dat slegs een van die sewe senior werknemers wat deur die munisipaliteit aangestel is, voldoen aan die vereistes vir die pos.

Dit onderstreep die VF Plus se herhaalde eise dat leefstyl- en vaardigheidsoudits op alle provinsiale en munisipale amptenare uitgevoer moet word.

Die vaardigheidsoudit dui byvoorbeeld aan dat een van die persone, mnr. Joseph Ngala, nie bewyse kon lewer van enige van sy beweerde kwalifikasies nie.

Dit sluit in 'n diploma of graad in kommunikasie of bemarking en 'n minimum van drie jaar ondervinding in 'n munisipale omgewing.

Mnr. Ngala is aanvanklik in Junie 2006 as 'n kommunikasiebeampte by die Mbombela-munisipaliteit aangestel en later daardie jaar tot operasionele bestuurder bevorder.

Die provinsie se strategieë om korrupsie in munisipaliteite hok te slaan, moet versterk word met leefstyl- en vaardigheidsoudits vir alle uitvoerende burgemeesters, finansiële hoofbeamptes, munisipale bestuurders en hul uitgebreide families.

Dit sal vroegtydig ongerymdhede ontbloot voor die onderskeie munisipaliteite verder in finansiële wanorde verval.

Dit moet eerste gedoen word op uitvoerende amptenare van munisipaliteite wat reeds deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas is.

Op dié manier kan die skuldiges wat die oorsaak is van die totale verval van die munisipaliteite, tot verantwoording geroep word.

Verder moet hierdie oudits nie net fokus op amptenare wat direk met die publiek handel nie, maar ook op alle ander amptenare, ongeag watter tipe amp hulle beklee.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.