Wat in Coligny gebeur het dui daarop dat die ANC-regering interne magte gebruik om die land te destabiliseer terwyl die land se sekuriteit nou oënskynlik ook in die hande van pres. Jacob Zuma lê, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag met die begrotingposdebat vir die departement van staatsveiligheid gesê die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, inkrimineer homself deur te sê, na die kabinetskommeling, het hy nog nie die geheime verslag gelees op grond waarvan die voormalige minister van finansies, Pravin Gorhan glo afgedank is nie terwyl pres. Jacob Zuma dit wel gelees het.
“Dit beteken die minister doen nie sy werk nie. Die implikasies van wat die minister sê is dat die president in beheer van staatssekuriteit is. Dit beteken daar word aan die president rapporteer en nie aan hom nie. Hy moet aan die mense van Suid-Afrika sê wie in beheer van die land se sekuriteit is.
“Die minster sê hy is bekommerd oor gerugte van buitelandse magte wat aan die werk is om ‘n bewindsverandering in die land te weeg te bring. Dit sal in werklikheid ‘n baie goeie ding wees, maar die VF Plus is veel meer bekommerd oor interne magte wat besig is om die land te destabiliseer.
“Hier wil ek in besonder na Coligny verwys. Twee dae voor die beplande optog om dienslewering begin het, was ‘n man met die naam Tebele op die toneel wat besighede gewaarsku het daar kom probleme. Die minister sal weet waarvan ek praat.
“Wat ek hiermee sê is dat die mense van die land nie beskerm word nie. Die huidige regering misbruik interne magte om gemeenskappe te destabiliseer onder ‘n rookskerm van rassisme waar misdadigers gekry word om te stroop, brand te stig en vrees in te boesem by gemeenskappe.
“Die minister moet besef hy is in diens van Suid-Afrika, en nie in diens van die president van Suid-Afrika nie. As hy erns daarmee het om die publiek van die land se veiligheid te verseker, moet hy afstand doen van politieke konneksies.
“Doen u werk, en sorg as daar intelligensieverslae kom dat dit geverifieer word en dat u as politieke hoof van u departement dit eerste lees, en nie die president nie, want dit beteken hy vat die werk uit hande,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403