Die VF Plus het vandag tydens ʼn debat in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) daarop gewys dat die ANC-regering, ten spyte van vele beloftes en jarelange “bemagtigingsuitsprake” vroue in die landbousektor deurlopende gefaal het.
Die debat se temas was “die uitbreiding van landbou- en landelike ontwikkelingsgeleenthede vir landelike vroue in Suid-Afrika”.
Geen doeltreffende regeringsbeleid om vroue in dié sektor te bemagtig om op ʼn volhoubare wyse suksesvol tot landbouproduksie by te dra, is die afgelope 29 jaar deur die regering geïmplementeer nie.
Suksesvolle vroue in die landbou het byna sonder uitsondering danksy hul eie dryfkrag of met bystand van die private sektor presteer.
Regeringslui het oor jare bloot lippediens en geykte ANC-propaganda tot die opheffing van vroue in die landbousektor gelewer.
Regeringsprojekte wat wel in die tyd geloods is, was deurlopend tot mislukking gedoem weens korrupsie, wanbestuur en ʼn gebrek aan behoorlike ondersteuning.
Stel hierteenoor vroueboere soos Marilize du Toit, Jeanine Claassen, Alanda van Zyl en Rodene Lampbrecht wat sonder regeringsbystand in ʼn uitdagende landbou-omgewing, reeds groot sukses bereik het.
Só ook talle vroue in landelike gebiede wat met bestaansboerderye hul families voed en op klein skaal hul produkte bemark.
Hierdie vroue weerspieël die voorbeeld gestel deur Afrikanervroue wat 120 jaar gelede hul familieplase letterlik uit die as moes heropbou.
Dít het hulle gedoen sonder regeringsbystand óf ʼn slagoffermentaliteit. Die VF Plus eer hulle.
Die doeltreffende opheffing van vroue in die landbousektor sal ʼn blote hersenskim bly onder ʼn ANC-regering wat bloot lippediens aan hierdie vroue lewer en eerder daarop fokus om deur rasgedrewe beleid ʼn kultuur van afhanklikheid en toeëiening te vestig.
Suid-Afrikaanse vroueboere verdien beter as die ANC.