Die VF Plus het ʼn dringende mosie by die munisipale bestuurder van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt, Emzinoni), mnr. Eliot Maseko, ingedien waarin gevra word vir ‘n formele ondersoek na ‘n ANC-raadslid se beweerde bedrog en ‘n oortreding van die gedragskode vir raadslede.
Dié optrede volg op die onlangse inhegtenisneming van ’n ANC-raadslid op 27 April 2025 in verband met beweerde bedrog wat die onwettige verkoop van munisipale grond en huise in Embalenhle behels.
Die raadslid, wat op 29 April voor die Secunda-landdroshof verskyn het, word daarvan aangekla dat hy met ‘n tussenganger saamgesweer het om ‘n gemeenskapslid te mislei om tussen R30 000 en R50 000 te betaal vir ‘n stuk grond wat in werklikheid ‘n openbare deurgang is.
Bewerings dui daarop dat die raadslid R8 000 direk in sy persoonlike bankrekening ontvang het en glo ‘n vervalste bevestigingsbrief vir die eienaarskap aan die gemeenskapslid uitgereik het. Die transaksie het na bewering in September 2024 plaasgevind, en daaropvolgende munisipale navrae het bevestig dat die betrokke grond wel openbare eiendom is wat dui op doelbewuste wanvoorstelling en uitbuiting.
Ten spyte van die erns van die situasie en duidelike bewyse van wangedrag, bly die raadslid aktief in sy rol met geen dissiplinêre stappe wat tot dusver geneem is nie. Die ANC-leierskap ignoreer opposisiepartye se kommer wat herhaaldelik tydens raadsvergaderings geopper word. Dit dui op ʼn ontstellende gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid.
In die lig van hierdie verwikkelinge eis die VF Plus ook ‘n ondersoek na die versuim van die speaker, me. Fikile Magagamela, om die nodige dissiplinêre prosedures in werking te stel wat ‘n duidelike pligsversuim en ‘n oortreding van munisipale wetgewing verteenwoordig.
Indien daar nie binnekort opgetree word nie, sal die aangeleentheid geëskaleer word na die VF Plus se provinsiale lid van die wetgewer, mnr. Werner Weber, om ‘n beroep te doen op die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) mnr. Speedy Mashilo, om dringend ‘n taakspan aan te stel om die breër bewerings van onwettige grondverkope te ondersoek waarby raadslede in Embalenhle betrokke is.
Die VF Plus sal voortgaan om hierdie aangeleentheid noukeurig te monitor en sal alle nodige stappe doen om te verseker dat oortreders verantwoordelik gehou word.