Die ANC-regering se beleid oor jeug in Suid-Afrika is niks anders as rassisme wat teen veral wit jeugdiges diskrimineer nie, en dit kom in werklikheid neer op die ontmagtiging van die jeug in die land, en nie op hul bemagtiging nie, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag in die debat oor die bemagtiging van die jeug in Suid-Afrika gesê die ANC is gou om die skuld vir onderwysprobleme op apartheid te pak en te spog oor wat hulle in die verband doen.
Hy sê tog het Zimbabwe se president, Robert Mugabe, ‘n graad aan die universiteit Fort Hare in die Oos-Kaap behaal terwyl dr. Mangosuthu Bethelezi van die IVP sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het.
“Apartheid was nie reg nie, maar dit kan nie die skuld vir alles kry nie. Tog is dit al wat die ANC kan doen omdat hulle nie in staat is om self probleme op te los nie: Pak die skuld op apartheid.
“Die ANC kom staan hier en spog oor die geleenthede wat hulle wil skep om die jeug te bemagtig. Die werklikheid is dat die ANC niks anders as rassisme bevorder nie. Die ANC spog oor beurse wat hulle beskikbaar stel aan die jeug, maar die werklikheid is dat as die ANC oor jeug praat, dan bedoel hulle swart jeug.
“As ‘n mens wil praat van probleme wat die jeug ondervind, moet daar gekyk word na die kern van die probleem. En dié probleme begin op basiese onderwysvlak.
“Hoe is dit moontlik dat die minister van basiese onderwys nou al begin voorspraak maak vir swak prestasies van matrieks deur te sê daar heers kommer oor die uitslae aangesien graad 11-leerlinge wat twee keer gedruip het, net eenvoudig deurgesit is om hul matriek-eksamen te skryf?
“Dit is niks anders nie as die verlaging van standaarde. Indien standaarde by basiese onderwys verlaag word, dan word die jeug nie bemagtig nie, maar hulle word ontmagtig. Die wit jeug word verder ontmagtig aangesien die regering met Regstellende Aksie (RA) direk teen hulle diskrimineer.
“Indien, die regering erns daarmee het om die jeug te bemagtig, moet hy kleurblind word. Moenie dat ‘n wit student aan hoër vereistes en ‘n hoër standaard moet voldoen om aan ‘n universiteit toegelaat te word nie. Moenie studiebeurse weier net omdat die student wit is nie.
“Kinders wat in 1994 gebore is, is vandag reeds 21 jaar oud. Hoe lank wil die regering nog teen hulle diskrimineer? Die waarheid is dat die jeug tans nie bemagtig nie, hulle word ontmagtig,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403