(Parlementêre begrotingsdebat: Gesondheid)
Met ‘n begroting van R64.5 miljard vir die 2022/23-finansiële jaar is die nasionale departement van gesondheid veronderstel om gesondheidsorg van die hoogste gehalte aan Suid-Afrikaners te lewer.
Tog gebeur dit nie onder die ANC-regering nie en soos vorige jare kan tereg gevra word wat word van die geld. Die antwoord is nou al bekend: Dit beland in die sakke van ANC-kaders.
In November 2020 het die departement gebuk gegaan onder ‘n korrupsiestorm van sowat R14 miljard.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het 224 regeringsamptenare verwys vir dissiplinêre optrede terwyl 386 sake vir moontlike vervolging verwys is na die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Die Digital Vibes-sage en die betrokkenheid van Zweli Mkhize is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Die probleem is egter dat Zweli Mkhize nog geen verantwoording gedoen het nie en steeds in die parlement sit as ‘n parlementslid van die ANC.
Weens die swak dienslewering in die openbare gesondheidsorg het die ouditeur-generaal (OG) sy kommer uitgespreek oor die aansienlike toename in regseise teen die departement.
Die OG het ook sy kommer uitgespreek oor die vermeerdering van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes weens ‘n “totale minagting” vir wetgewing.
Die voorbeeld van Mkhize wys hoe dit moontlik is en hoe ‘n korrupte regering korrupte kaders beskerm .
Wat infrastruktuursprojekte aanbetref, meld die OG in sy verslag dat daar ‘n aansienlike vertraging is in die lewering van projekte in sommige provinsies. Ook dat sommige provinsiale departemente nie daarin geslaag het om projekte doeltreffend te bestuur nie, wat gelei het tot potensiële vrugtelose en verkwistende uitgawes van sowat R18.5 miljoen.
Dan raak dit duidelik waarom die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg nie betyds sy deure kon oopmaak ná die brand in April verlede jaar nie.
Dit was skokkend om te verneem dat hierdie projekte vertraag word deur swak vakmanskap en prestasie van kontrakteurs, swak projekbestuur en swak beplanning deur provinsiale departemente. Nogtans is dit nou reeds te wagte onder die ANC.
Die VF Plus plaas groot vraagtekens oor die departement se stellings dat daar in die afgelope finansiële jaar 40 mediese geriewe gebou en herstel is, dat 21 hospitale in die afsienbare tyd gebou en herstel gaan word en dat ‘n verdere 120 geriewe opgegradeer gaan word.
Die portefeuljekomitee het die afgelope jaar verskeie hospitale regdeur die land besoek en elke keer het die VF Plus die swak infrastruktuur en instandhouding van die betrokke hospitale tydens hierdie besoeke uitgewys en beklemtoon. Die VF Plus sal enigiets van ANC-kant eers glo wanneer dit gesien word.
Die kwessie van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) hang ook soos ‘n albatros om die nek van algemene gesondheidsorg.
Geld wat nuttig aangewend kan word in die aanstelling van verpleegsters en dokters, die betaling en verkryging van medikasie en broodnodige mediese toerusting en die uitbou van infrastruktuur, word vermors in die bodemlose put van die NGV.
Daar is tans vakante poste vir 10 831 verpleegsters en 1 339 dokters in staatshospitale.
Die VF Plus kan nie ‘n begroting steun waaruit Suid-Afrikaners geen voordeel gaan trek nie. Al wie bevoordeel gaan word, is die ANC en sy korrupte kaders.
Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.