fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC in Noordwes misbruik regeringstrukture om faksiegevegte te voer terwyl dienslewering in duie stort

Die verval van dienslewering in Noordwes duur voort te midde van die voortslepende ANC-binnegevegte in die provinsie.

In die jongste verwikkeling het dit gister bekend geword dat Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta), Mmoloki Cwaile, met onmiddellike effek deur die premier, Job Mokgoro, afgedank is.

Cwaile het egter ‘n brief onder lede van die wetgewer gesirkuleer waarin hy sy “bedanking” aankondig en beweer dat hy bedank weens sy “onvermoë om te wees wat die ANC van hom verwag”.

Hierdie gebeure volg nadat die kabinet vroeër ‘n beginselbesluit geneem het dat ernstige ingryping, waaronder die ontbinding van munisipale rade, by ‘n aantal munisipaliteite in Noordwes moet plaasvind.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die premier skynbaar nie van die kabinetsbesluit kennis gedra het nie en dat die korrekte prosedures en protokol nie met die provinsiale regering, asook die provinsiale wetgewer komitee oor Coghsta, gevolg is nie.

Die impak van hierdie chaotiese stand van sake in die provinsiale regering en spesifiek op plaaslike gemeenskappe is enorm.

Maatskappye skort hul bedrywighede in die provinsie op weens die verslegtende toestande en van nuwe beleggers is daar bykans geen sprake meer nie.

Die onttrekking van Clover uit Lichtenburg is ‘n voorbeeld en het gelei tot honderde werksverliese.

Die VF Plus het reeds by herhaling daarop gewys dat die grootste werkverskaffers in Noordwes klein- tot medium-sakeondernemings is wat stelselmatig na groener weivelde verhuis weens die swak en onbetroubare munisipale dienste in die provinsie.

Die ANC-faksiegevegte in Noordwes en die misbruik van staatstrukture om dié gevegte te besleg, dreig om die provinsie oor die afgrond te stoot. Dit is ‘n skreiende skande dat ANC-leiers weereens bewys het dat hulle hul eie belange en dié van hul ontplooide kaders bo die belange van gemeenskappe stel.

Noordwes word onder die ANC-beheer gekenmerk deur wanbestuur, korrupsie en onstabiliteit.

Die kiesers moet in die komende verkiesings saam met die VF Plus opstaan en saamstaan om die verval in plaaslike regering te stop.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.