Die ANC-beheerde Mogale City-stadsraad in Krugersdorp se doelbewuste vertraging om ‘n vergadering te belê vir die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester, is ‘n strategiese skuif om te verhoed dat opposisiepartye die leisels oorneem.
Burgemeester Patrick Lipudi is op 12 Januarie in die Helen Joseph-hospitaal oorlede en twee ander ANC-raadslede is weens omstandighede nie in staat om die vergadering by te woon nie wat ‘n veelparty vennootskap ‘n moontlikheid maak.
Met die afsterwe van Lipudi het sy burgemeesterskomitee outomaties ontbind. Volgens Artikel 55 van die Munisipale Stelselswet moet die vakature verkieslik binne 14 dae gevul word.
Sonder ‘n burgemeester kan die stadsraad nie sekere uitvoerende magte uitoefen nie wat ‘n verlammende uitwerking op die funksionering van munisipale administrasie het. Dit kan noodsaaklike dienslewering aan die gemeenskap nadelig beïnvloed.
Sekere uitvoerende funksies van ‘n burgemeester kan tans nie verrig word nie:
1. Ter tafellegging van maandelikse artikel 71 Munisipale Finansiële Bestuurswet-verslae;
2. Statutêre oorsig met die invordering van munisipale skuld soos bepaal in artikel 99 van die Munisipale Stelselswet;
3. Ter tafellegging van die 2018/19-jaarverslag;
4. Die opstel van begrotings wat kragtens die Munisipale Finansiële Bestuurswet deur die burgemeester onderneem moet word;
5. Aksies wat geneem moet word met die opstel van die geïntegreerde ontwikkelingsplan;
6. Aksies wat geneem moet word met die aanstelling van die ruimtelike beplanning en bestuur van grondgebruik-tribunaal wat reeds sedert die inwerkingtreding van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Bestuur van Grondgebruik nog nie na behore aandag ontvang het nie; en
7. Die ontvang van departementele verslae wat aan die onderskeie portefeuljekomitees voorgelê moet word vir oorweging deur die burgemeesterskomitee en die neem van besluite, voorstelle en aanbevelings wat na die raad verwys moet word vir oorweging.
Die VF Plus versoek die Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, om dringend ingevolge Artikel 139(1) van die Grondwet die nodige aksies te neem om die vakature sonder versuim te vul.
Kontaknommer: 082 806 7891