fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC gaan voort met wanbesteding van sinkende Mangaung-metro se geld

Die ANC-kaders aan stuur van die Mangaung-metroraad bestee die sinkende metro se fondse op alles behalwe wat nodig is.

Dit blyk duidelik uit die kwartaallikse tendertoekenningsverslag wat vandag voor die raad gedien het.

Die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, het in Augustus vanjaar ‘n sogenaamde bewusmakingsprogram oor geslagsgegronde geweld gehou waarop meer as R300 000 bestee is. Byna die helfte daarvan vir spyseniering.

Die VF Plus wil weet hoeveel slagoffers van geslagsgeweld werklik hierby baat gevind het en of dit weereens ‘n verskoning was om politieke guns te koop en partytjie te hou.

Dieselfde geld ‘n sogenaamde vrouegeleentheid van die adjunk-burgemeester, me. Mapaseka Mothibi-Nkoane, waarop duisende rande bestee is.

Ander tenderkontrakte wat toegeken is waarteen die VF Plus ten sterkste beswaar gemaak het, sluit in ‘n kontrak vir sekuriteitsdienste.

Dit is toegeken terwyl opgeleide metro-polisiebeamptes teen volle betaling by die huis sit weens ‘n gebrek aan voertuie.

Daar was ook die lewering van sleuteldienste teen ‘n ruim R7 miljoen, die lewering van uniforms vir die lank reeds geslote dieretuinpersoneel en ‘n toekenning van R89 000 vir die begrafnis van ‘n munisipale amptenaar in Upington.

Dit is ‘n skande dat die ANC-regering dit goed vind om sulke groot bedrae aan onnodige uitgawes te bestee terwyl die metro effektief bankrot is en nie basiese dienste aan die inwoners kan lewer nie.

Die VF Plus veroordeel dit ten sterkste. Die feit dat hierdie tendertoekennings gedoen word onder die neuse van die intervensiespan wat deur die nasionale regering aangewys is om die metro reg te ruk, is ewe skandelik.

Dit is nog ‘n bewys dat die ANC se prioriteite verkeerd is en dat selfverryking altyd bo diens aan die gemeenskap gestel sal word.

Die mense van Mangaung verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.